2022 ‘n Jubeljaar

‘n Week terug vat ek die langpad Kaap toe met net myself as geselskap.

Met dagbreek ry ek verby die vlaktes net duskant Pella en ek sien hoe die son stadig begin kop uitsteek agter my. Die Boesmanland ontwaak. Letterlik en figuurlik met groen grasspruite en fyn opslag wat skaam-skaam hul weg vind en kankerbosblomme wat baldadig die vlaktes inkleur. 2022 Breek aan as ‘n jubeljaar in die Boesmanland en ons kan nie help om met verwagting uit te sien nie.

Ek moet bieg: Ek het seker op skool laas nuwejaarsvoornemens gehad, maar het totaal meegevoer geraak in die oomblik tussen kokerboom en kaiingklip. Dit was asof my gedagtes net die vlaktes vat en regmaak vir dit wat kom! Ek voel ligter (nie in die sin van gewig verloor nie, daardie voorneme is al oorboord gegooi die aand van oujaars toe ons familie 2022 verwelkom met 3 vetterige dorperskaap staanribbes!)

Het jy al tyd gehad vir asemhaal en moedskep vir die jaar wat voorlê? Het jy al jou pen en papier uitgeruk en jou nuwejaarsvoornemens neergepen? Indien nie help ek jou graag met ietwat “ligter” en haalbare voornemens!

  • Begin ‘n dankbaarheisjoernaal. Skryf elke aand ten minste 3 dinge neer waarvoor jy dankbaar is.
  • Probeer ‘n nuwe restaurant en bestel iets op die spyskaart wat jy nog nooit voorheen geëet het nie (Een voorneme wat ek al kan afmerk – ek deel binnekort meer!)
  • Plant meer. Bome, blomme, kruie – net wat jy wil!
  • Volg jou hart. Hou op om jou te bekommer oor wat ander sê. Doen wat JOU gelukkig maak!
  • Koop minder. “Less is more!”
  • Luister meer.
  • Sit jou foon af sodat jy in die aande meer kwaliteit tyd saam met jou familie kan spandeer.
  • Vat elke dag tenminste 10 minute vir jouself. Jy kan stap, boeklees, mediteer, Godsdiens hou – net wat jy wil. Solank jy dit net vir jouself doen!
  • Doen iets waaroor jy passievol voel. Dalk is dit juis hoe die Here wil hê jy ‘n verskil moet maak…
  • Handel iets af waarmee jy al lank besig is, maar nooit tyd het voor nie.
  • Gee elke dag vir 1 persoon ‘n kompliment. ‘n Opregte, uit-die-hart-uit kompliment.
  • Begin jou dag met ‘n goeie koppie moerkoffie.
  • Drink meer water!
  • Kweek jou eie kostuin of vind ‘n mark waar jy plaaslik en vars kan koop!
  • Vereenvoudig jou koskas en leer kosmaak met minimum bestanddele. (Hierdie is iets wat die Boesmanland jou gou leer – ek deel meer tips en truuks binnekort!)
  • Bid meer.
  • Doen minder.

Einde ten laaste het ek besluit om hierdie jaar eenvoudig te hou. Ek kies 3 woorde eerder as ‘n boekvol voornemens.

OORGAWE | TEENWOORDIG | STADIG

Processed with VSCO with a6 preset

En dit is my wense vir elke liewe Boesmanland Langtafel leser.

Mag jy in oorgawe tot God leef. Mag jy teenwoordig wees in elke kosbare oomblik. Mag jy stadig leef en sommer net weer die lewe geniet! En as alles vir jou te veel raak skink jy vir jou ‘n glas wyn, sit musiek aan en kook ‘n heilsame bord kos.

Maak 2022 jou jaar van betekenis.

8 Comments

  1. Hi Marli Ek hoop jy het jou kuier in die Kaap geniet, vol nuwe moed terug gekom.
    Mag jy en Theuns n geseende 2022 he, vol van God se vreugde, vrede en geluk.
    Geniet baie jou skrywe, van my terug na my eie kinderjare op Makkiesplaas, Ek se altyd vir jou pa vir my is daar nie meer n Suid Afrika nog net n Boesmanland en Makkiesplaas, omdat dit hier is waar ons eenvoudig geleef het soos hulle wat naby die aarde staan, die sterre sien, die winde hoor en GLO, Hierdie Boesmanland het ons geslyp om dan ook hier in Nieu Seeland n skouer te kan bied vir ander Suid Afrikaners met emmigrasietrane en n hart vol pyn. Love you heaps Annapop en Willie Lubbe

  2. Hallo Marli

    Mag ek jou aanspreek as my Boesmanlandvriendin

    Dankie vir jou nuwejaarsvoorneme lys

    Ek is van Pretoria en het jou lysie vir myself aangepas

    Ek deel dit met jou:
    • Begin ‘n dankbaarheisjoernaal. Skryf elke aand ten minste drie dinge neer waarvoor jy dankbaar is.
    • Probeer ‘n nuwe soort kos en koop iets wat jy nog nooit voorheen geëet het nie
    • Plant meer: Bome, blomme, kruie – net wat jy wil!
    • Volg jou hart. Hou op om jou te bekommer oor wat ander sê. Doen wat JOU gelukkig maak!
    • Koop minder. “Less is more!”
    • Luister meer.
    • Skakel jou selfoon en rekenaar af sodat jy in die aande meer kwaliteit tyd saam met jou familie (en jouself) kan spandeer.
    • Bestee elke dag tenminste 10 minute vir jouself. Jy kan stap, boeklees, mediteer – net wat jy wil. Solank jy dit net vir jouself doen!
    • Doen iets waaroor jy passievol voel. Dalk is dit juis hoe jy ‘n verskil moet maak
    • Handel iets af waarmee jy al lank besig is, maar nooit tyd het voor nie.
    • Gee elke dag vir een persoon ‘n kompliment. ‘n Opregte, uit-die-hart-uit kompliment.
    • Begin jou dag met ‘n goeie koppie koffie.
    • Drink meer water!
    • Kweek jou eie kostuin of vind ‘n mark waar jy plaaslik en vars kan koop!
    • Vereenvoudig jou koskas en leer kosmaak met minimum bestanddele.
    • Doen minder.

    Groete

    Willem Louw

    • Willem

      Dis vir my ‘n voorreg om jou Boesmanlandvriendin te wees! Baie dankie vir die deel. Mag 2022 vir jou ook ‘n jubeljaar wees. En mag ons terugkyk aan die einde van hierdie jaar en sê “Dit was goed”.

      Groete hier uit ‘n bewolkte Boesmanland

    • Hi Helene

      Ek besef elkedag net meer en meer hoe bevoorreg ons is om hier te woon. Iemand se nouriedag ons vlaktes is kaal, maar die Here het opgemaak daarvoor met die sonsopkoms en sonsak en die wonderlike blou lug.

      Mag jy ‘n geseënde nuwejaar hê en mag jy so bevoorreg wees om weer in die Boesmanland te kom kuier.

      Groete

    • Johan

      Baie dankie vir jou mooi woorde! My wens is om ons wêreld se mooi met soveel as moontlik mense te deel.

      Mag 2022 vir jou ‘n jubeljaar wees.

      Groete

Leave a Reply