2023 ‘n Diep jaar

Ons trek al by middel Januarie en uiteindelik kry ek tyd om ‘n oomblik agter my rekenaar in te skuif en sommer net vir elkeen van my lesers ‘n gelukkige en geseёnde 2023 toe te wens!  Ek luister verlede week op RSG waar Amore Bekker met die blydskapsnavorser Johannes De Villiers gesels oor ‘n diep jaar. Die konsep is eers vir my vreemd, maar hoe langer ek daarmee in my gedagtes loop hoe meer groei dit op my.  Skielik lyk my nuwejaarsvoornemens vir my so eenvoudig en onbenullig – en die konsep van ‘n diep jaar lyk soos dit waarna my hart al baie lank smag! 

‘n Diep jaar word verwoord as ‘n jaar waarin jy geen nuwe dinge aanpak of koop nie – jy leer eerder om genot te put uit dit wat jy alreeds het.  Jy begin lees al daardie boeke wat al jare lank op jou boekrak stof vergader (en neem jouself voor dat jy hierdie jaar geen nuwe boeke sal koop nie!).  As jy kookboeke versamel, lees jy elkeen soos ‘n storieboek en dan spring jy weg en begin kook uit ieder en elk (Sonder om natuurlik enige nuwes aan te skaf)  As jy al lankal wil klavier speel of ‘n nuwe taal leer (of mooi foto’s neem/dagboek hou/laslappie komberse maak/voltooi hierdie met net wat jy wil!) is 2023 jou jaar om jou belangstellings en talente af te stof en dieper te gaan.  Meer te leer.  Meer tyd te spandeer.   Jy moet leer om allerdaagse dinge “dieper” en met meer sin te ervaar. 

Johannes stel dit so mooi wanneer hy sê ons moet leer om dieper te leef – en nie wyer nie.  Ons leef in ‘n verbruikerskultuur waar die vreugde om iets nuuts te kry ons dryfkrag geword het – in plaas van om iets af te handel of te bemeester.  Ons is konstant opsoek na meer, nuwer, vinniger en moderner.  Ons wil heeltyd wyer leef – terwyl diep soveel meer waarde dra innerlike vrede verskaf.

Ek daag jou dus uit om 2023 jou diep jaar te maak.  Kies ‘n allerdaagse iets wat jy met nuwe diepte wil aanpak.  Dit kan iets so eenvoudig wees soos om soggens met jou honde te gaan stap en dan werklik aandag te gee aan hul uitbundige vreugde, om te sien hoe hulle sterte swaai, om te sien hoe die son speels skaduwees onder bome gooi, om die voёltjies te hoor sing en om die vars oggendlug diep in te asem.  Ek kies om kosmaak en etes om ons kombuistafel “dieper te ervaar”.  Om werklik vars bestanddele te leer waardeer – hoe dit voel, ruik en proe.  Om eenvoudige, plaaslike bestanddele te gebruik eerder as om kaste vol langlewe ingevoerde blikkies en pakkies te hê.  Om wanneer iemand sy voete onder my tafel in skuif die moeite te doen om stil te raak en daardie persoon se menswees plek te gee om te ontspan en oop te maak.  Om saam met hartsmense hardop te lag en diep en innig in elke pyn en worsteling te deel. 

En dan kies ek natuurlik om ook vir die heel eerste keer in my lewe die rol van “ma-wees” diep te leer ken en te ervaar.  My stories, skrywes en resepte gaan moontlik na Mei 2023 ‘n ander kleur begin kry – ‘n seisoen waarna ek met uitbundige vreugde uitsien!  En ek hoop dat ek ook deur hierdie fase van my lewe ander geselsgenote sal hê wat saam met my kan lag, huil en sommer net eerlik wees oor ma-wees.

As jy kies om 2023 jou diepjaar te maak wens ek dat hierdie vir jou ‘n veilige plek sal wees om jou ervaring ook met my te kom deel.

Gaan luister gerus na die RSG praatjie hier: https://omny.fm/shows/alhoebekker-1/die-blydskapsnavorser-11-januarie-2022

En gaan lees die meer indiepte artikel oor “Dieper, nie wyer” hier: Go Deeper, Not Wider (raptitude.com)

Leave a Reply