Ek was in my element toe ons inperktyd die eerste keer aangekondig word. Ek het onmiddelik my ma se resepteboeke uitgepak en entoesiasties begin kook en bak. My man was natuurlik ook in die 7de hemel aangesien hy slegs kookkos gewoond is op Sondae!
Na my eerste week en ‘n half van ingeperk wees benader ek die Vrydag oggend baie braaf die skaal. 2 kg in ‘n week en ‘n half (en dit terwyl ek ‘n streng oefen skedule volg!). Vandag staan ons op 21 dae en ek het maar liefs die skaal weggebêre. Ek het wel gister plotseling besluit so kan dit nie aangaan nie, ons sal wragtig rol na ons 5 weke by die huis.
Dus is dit tyd om die bure te bederf! Daar is al wat ‘n uitdaging besig om die rondtes te doen op sosiale media en daarom wil ek met Langtafel ook ‘n uitdaging begin naamlik #bederfjoubure. Ek gaan 3 lekker maklike reseppies deel (gunstelinge uit my jongerdae) en ek daag elke leser uit om een van hierdie reseppies te probeer (of enige ander resep as jy nie meer die nodige bestanddele het nie) en dan jou bure te bederf daarmee. Sit dit by hulle plaashek neer (As jy soos ons redelik ver van jou naaste bure is), los dit by hulle voordeur of sit dit op die tuinmuur neer en stuur net ‘n booskappie om te sê “Hou moed!” As jy ‘n ou oom of ‘n jong mamma êrens in jou straat het, daag ek jou uit om hulle ook te bederf. Dit is nou so nodig dat ons omgee vir mekaar en ook die mense naaste aan jou spesiaal laat voel.
My lekkertes staan gebak en getooi met vrolike linte, reg om oor die naweek by my bure se plaashekke afgelewer te word!
My eerste resep is ‘n lekker Piesangbrood, aangesien al die piesangs in my huis al teen die tyd oorryp is! (En almal natuurlik besig is om wyd en suid op sosiale media te spog met hulle piesangbrode)
Piesangbrood
bestanddele
125 g Margarien
500 ml Bruismeel
2 Eiers
250 ml Suiker
5 ml Vanielje Geursel
4 Ryp Piesangs
metode
- Voorverhit jou oond tot 180°C en spuit jou broodpan
- Room botter en suiker saam
- Maak die piesangs fyn en voeg by bogenoemde mengsel
- Voeg die res van die bestanddele by en meng als goed
- Gooi die beslag in jou broodpannetjie en bak by 180°C vir ongeveer 1 uur of totdat broodjie mooi bruin is bo-op
Deel jou bure bederwe met my op Facebook en Instagram. Tag @Boesmanlandlangtafel en #Boesmanlandlangtafel asook #bederfdiebure. Daag dan nog 5 mense uit om dieselfde te doen. Kom ons gebruik hierdie tyd om werklik ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak!
Fillipense 1:9 Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word. Deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel.
Met liefde uit die Boesmanland xxx