Bederf die bure Resep 3

Daar is al wat ‘n uitdaging besig om die rondtes te doen op sosiale media en daarom wil ek met Langtafel ook ‘n uitdaging begin naamlik #bederfjoubure. Ek gaan 3 lekker maklike reseppies deel (gunstelinge uit my jongerdae) en ek daag elke leser uit om een van hierdie reseppies te probeer (of enige ander resep as jy nie meer die nodige bestanddele het nie) en dan jou bure te bederf daarmee. Sit dit by hulle plaashek neer (As jy soos ons redelik ver van jou naaste bure is), los dit by hulle voordeur of sit dit op die tuinmuur neer en stuur net ‘n booskappie om te sê “Hou moed!” As jy ‘n ou oom of ‘n jong mamma êrens in jou straat het, daag ek jou uit om hulle ook te bederf. Dit is nou so nodig dat ons omgee vir mekaar en ook die mense naaste aan jou spesiaal laat voel.

My lekkertes staan gebak en getooi met vrolike linte, reg om oor die naweek by my bure se plaashekke afgelewer te word!

My 3de resep is ‘n lekkerte was ons kleintyd geken het as Rotskoekies. Ek het onlangs op ‘n ongelooflike lekker makliker mikrogolf resep van Errieda du Toit afgekom wat ek vandag met julle deel! Hierdie is ook ‘n baie oulike resep as jy jou kinders wil innooi kombuis toe, dis maklik en ideaal vir die klein kokke tussen ons.

Rotskoekies

Recipe by Marli Visser

bestanddele

  • 250 ml Suiker

  • 250 ml Klapper

  • 250 ml Hawermout

  • 50 g Botter

  • 50 ml Kakao

  • 50 ml Volroommelk

  • 2 ml Vanielje Geursel

  • Knippie Sout

  • Soutvlokkies vir bo-oor strooi

metode

  • Spuit of smeer jou bak of bakplaat met botter of kleefvrye sproei
  • Mikrogolf al die bestanddele (buiten die soutvlokkies vir strooi) vir 4 minute onbedek by 100% krag in ‘n diep, mikrogolfvaste bak, 2 liter volume
  • Skep lepels vol van die koekies op die plaa, strooi soutvlokkies bo-oor en laat dit afkoel en set

Pak hierdie in jou mooiste koekie blik en gaan gee dit by die bure se hek af! Dit is dalk net wat ‘n moedelose mamma en vervelige kleuters nodig het om hul dag op te kikker.

Deel jou bure bederwe met my op Facebook en Instagram. Tag @Boesmanlandlangtafel en #Boesmanlandlangtafel asook #bederfdiebure. Daag dan nog 5 mense uit om dieselfde te doen. Kom ons gebruik hierdie tyd om werklik ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak!

Fillipense 1:9 Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word. Deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply