Wintervakansies in die Boesmanland

Dis koud en nat en winderig in die Boesmanland gedurende wintermaande.  Die waterpype sit witgeryp in die oggend en die bakkies sukkel om te start.  Dis sprokiesmooi, maar onsmaaklik as jy jou loon buite moet verdien. 

Ek besef om op die 1ste Oktober te blog oor wintervakansies is effe uit plek uit, maar vanoggend lê die koue ‘n blou bank op die horison as ek by my kombuisvenster uitkyk.  Ons middagete is tuisgemaakte boerewors en boerbrood en dit krap my onthou nou ver uit!

Ons wintervakansies op die plaas was amper vir my net so groot soos ‘n week by die see in Desember!  Dit was die vakansie wat ons Van Zyl familie uit Upington kom kuier het.  Tannie Ella het met ‘n bakkievrag “dorpskos” ons plaaskinders kom bederf.  Dit is kaas in plastiek velletjies toegedraai, vrugtesap en boksiemelk.  Dis klein sjokolades met blink papiertjies en hasiemelk in verskeie kleure.  Dis als goed wat ons klomp Nelletjies net met wintervakansies gesien het.

Die 3 Van Zyl niggies het van vroegdag af al saam in ons blikskerm gekuier.  Daar’s soet moerkoffie in ‘n blikketel gekook, braaibroodjies en wors gebraai en ure lank in die stof en rook gespeel.  Soggens en saans moes ons hanslammers melk gee, hoenders hok toe vat en eiers uithaal.  Dis als dinge wat deel van ons dagtake as plaaskinders was, maar met wintervakansies het hierdie allerdaagse gesorg vir groot opwinding!

In die aande na etenstyd was dit aansit vir konsert.  Ons ouers was die gehoor en ons die glanspersoonlikhede. “O die Donkie” is vers vir vers voorgedra tot laatnag.  Dis die enigste verwysing wat ek van teater gehad het tot in my universiteitsdae.  My pa vertel graag van hoe hulle as kinders ook konsert gehou het (hulle was 6 kinders – dus ‘n hele toneelgroep van hul eie)  Hy was altyd verantwoordelik vir die gordyne se oop en toe trek – die “grênd opening & finale”.  Sonder hom sou daar dus geen konsert kon wees nie!

Laatnamiddae was dit tyd vir skermkuiers. Daar is staanvuur gemaak en klipwerf gespeel. Die rooster gelaai met roosterkoek, boesmanland tjoppies en tuisgemaakte boerewors. Kosbare, kosbare onthou!

Boerewors

Recipe by Marli Visser

Daar is niks wat by tuisgemaakte boerewors kom nie! Net genoeg vet, lekker sappig en sterk in erfenis geure met geen vreemde fieterjasies! Hierdie resep is genoeg vir 7 kg wors.

BESTANDDELE

  • 1.5 kg Vet, gemaal

  • 5.5 kg Beesmaalvleis

  • Derms

  • 2 E Fynsout

  • 4 E Fyn Koljander

  • ½ T Fyn Naeltjies

  • ½ T Neutmuskaat

  • ½ T Peper

  • ¼ K Bruin Asyn

METODE

  • Meng al bogenoemde goed deur
  • Stop maalvleismengsel in jou derms
  • Bak / braai en geniet!

Notes

  • Hierdie resep is heerlik in die pan gebraai of op die rooster.  As jy dit panbraai, gooi bietjie water by terwyl die wors bak.  Bedien dan die wors en sous met ‘n varsgebakte boerbroodjie.  Koningskos!

Het jy enige Wintervakansie onthoustories? Gesels gerus saam op my blog! Dis vir my ongelooflik lekker om van julle, my lesers, te hoor en saam te lees oor gister se onthou. Oor grootword in die platteland, kos uit ouma se koolstoof en oor sonsit kuiers met jou hartsmense. Die gedagte aan julle maak my hart warm op hierdie koue dag!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

3 Comments

  1. Hi Marli Ja die winteronthoustories is sommer nog vars in die geheue. Die Juniemaand skoolvakansie was altyd drie weke lank. Nouja die eerste Maandag van die vakansie het oom Louw oorgekom vroeg oggend en die bees kom skiet. In die groot waenhuis was alles gereed. My ma was lief vir vleiswerk.
    Almal moes help. Afval skraap, vleismeul draai, vet afsny, wors stop, soutvleise inle, die silt begin kook en dophou, die biltonge sout, die kookvleis seel in plastiek, die sopbene eenkant uitsorteer, daar was houers en nogmaal houers, daar was vele pare hande daar was n atmosfeer van vreugde en geluk net ek was nie daar nie. Iemand mos koffie maak tee maak ander drinkgoed oor en weer dra van die huis na die waenhuis. Vroegoggend het ons ontbyt gehad in die huis en dan daarvandaan het hierdie aandraery nou begin, dis toebroodjies maak, dadelbrood smeer, ag ek kan nie eens meer alles onthou nie, al wat ek weet is dit was een groot fees, my ma en pa het 13 jaar verskil maar was baie gelukkig getroud. Nouja dit was dan winter en koud, Warm water moes gemaak word, want die hande van almal moes gereeld gewas word, dit was vadoeke en voorskote, dit was heerlik en daardieselfde aand nog het ons van die wors gebraai in die skerm. Groete Annapop Lubbe

  2. Hi Marli!
    My naam is Anika Mac Arthur. Ek is MAL oor jou page! Ek het ook so n liefde vir die namakwaland/boesmanland – ons het altyd Desembers teen die see loop vakansie hou naby Kotzesrus/Rietpoort!

    ASB sal jy n resepte boek uitbring?

    Groete
    Anika

    • Hi Anika Mac Arthur

      Baie dankie vir die kompliment, ai jy doen my menswees vanoggend BAIE goed! Oor die Resepte boek – jy sal verseker die eerste een wees om te weet!

      Liefde uit die Boesmanland

Leave a Reply