Ek wil net hierdie blog begin deur uit te klaar dat ek hoegenaamd nog nie kwalifiseer as ‘n boervrou in hierdie wêreld van ons nie. Alhoewel my wortels nog altyd hier in die Boesmanland lê, is dit nou eers amper twee jaar wat ek woon in ons klip plaashuis met sy vriendelike stoep en lowergroen lemoenboord.
Ek leer nog elke dag hoe om van ons huis ‘n veilige hawe en hartlike plek van lewe en feesvier te maak. Ek leer bid oor ALLES, die berge in my lewe, maar ook die molshope. Ek leer van hard huil as dit net ek en die Here is, en arms oopgooi sodra enige iemand anders met swaar en seerkry my drumpel betree. Ek leer van Vrouwees vir my Theunis -man wat elke dag in die son moet staan en droogte, honger en swaarkry moet aanskou net om vanaand vir ons kos op die tafel te kan sit. Ek leer ook nog van “Nie nou nie – kom ons byt net vas totdat dit gereën het”
Ek lees verlede naweek ‘n boek getitteld “My naam is Rut” geskryf deur tannie Hannelie van Niekerk, ‘n ongelooflike talentvolle skrywer hier uit ons midde. Sy deel die opofferings, die hartseer maar ook die hoop van vele Boervroue tydens hierdie uitmergelende droogte in ons geweste. Sy het die pad saam met elke vrou gaan stap en nooi ons na elkeen se binnekamer.
Boervroue wat daagliks trane afvee in hul stiltetyd net om ‘n standvastige rots te wees as hul moedelose mans tuiskom. Onselfsugtig. Dit is die een woord wat elke boervrou opsom. Jy plaas die belange van jou kinders, jou man, die honger lammers wat elke dag bottel moet kry en ook die plaaswerkers en hul gesinne bo jou eie. Jy kan nie onthou wanneer laas julle op ‘n wegbreek was nie.
My ma was ‘n stoere boervrou, so ook Ma Marinda wat sedert 2011 aan die hoof van ons huis staan. Hulle albei het my geleer dat Boervrou wees nie gemeet word aan jou huis, jou kospotte of jou gebottel nie. Boervrou wees is ‘n hart, siel en gees voldag werk. Dit is 1 Tessalonisense 5:16-18 elke liewe dag van voor af. Wees altyd bly ten spyte van droogte, ten spyte van skaap wat vrek van die honger, ten spyte van kinders wat koshuis toe moet gaan, ten spyte van die afwesigheid van luukshede. Bid gedurig, dag en nag. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Wees dankbaar oor die nederige plek waar jy is, oor die stukkie mooi wat die Here vir jou afgemeet het.
Vir elke Boervrou wat vandag hier lees wil ek seën met Psalm 16:11 “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is” Mag die Here vir julle nuwe moed gee. Mag julle vreugde vind in die een Blousporrie blommetjie wat jy langs die pad sien. In die “Ek is lief vir jou mamma” na ‘n dag se gestoei met tuisonderrig. In jou man se dankbare oë wanneer hy vanaand na ‘n lang dag saam met jou kan handevat om die kombuistafel en weet jy verstaan en hoor sonder dat daar woorde is. Mag die Sonsondergang jou asem wegslaan en jou herinner dat ons Here selfs na ‘n lang uitemergelende dag steeds langs jou sy is.
Jy is kosbaar verby. Meer werd as enige edelstene. Jy is jou man se lig op ‘n donker pad. Jy is die hoop in ‘n droeë en hopelose Boesmanland. Jy’s die sonskyn in elke vertrek en die lag wat na ‘n donkernag die more aankondig. Jy is geroep vir ‘n tyd soos hierdie.
Melktert
BESTANDDELE
- KORS
75 ml Meel
2 Eiers
10 ml Bakpoeier
45 ml Botter
30 ml Suiker
2.5 ml Sout
- Vulsel
1 L Melk
45 ml Botter
4 Groot Eiers
60 ml Maizena
90 ml Suiker
2.5 ml Sout
15 ml Vanielje Geursel
Fyn pypkaneel vir bo-oor strooi
METODE
- KORS
- Room botter en suiker saam
- Klits eiers baie goed en voeg by die geroomde botter en suiker. Klits alles goed saam
- Sif alle droeë bestanddele saam en roer dit dan by bogenoemde mengsel in tot goed deurgemeng
- Smeer die deeg met ‘n slaplemmes in voorafgespuite tertbak of 2 x blikborde van ongeveer 25 cm in deursnee
- VULSEL
- Voorverhit jou oond tot 180°C
- Skeie eiers en voeg 250 ml melk en Maizena by die eiergele en klits goed
- Plaas orige melk in ‘n kastrol, voeg die botter, suiker en sout by en verhit tot kookpunt
- Voeg stadig die maizena en eiergeel mengsel by die kokende melkmengsel terwyl jy aanhoudend klits
- Klits eierwitte tot sagtepunt stadium
- Sodra mengsel weer kook haal van hitte af en vou geursel en styfgeklopde eierwitte in
- Gooi die tertborde vol en bak vir ongeveer 30 minute of tot die tertkorse mooi goudbruin is
- Strooi onmiddelik pypkaneel oor sodra die warm terte uit die oond kom
‘n Melktert is een van Ma Marinda se gunstelinge. Ek wens ek kon vanoggend elke Boesmanlandse vrou bederf met ‘n stukkie soet vir die siel.
Met liefde uit die Boesmanland xxx
Marli jou langtafel is baie spesiaal vir my. Baie dankie dat ek dit saam met jou kan deel…daar is eintlik so veel wat ons kan deel…en op n baie spesiale manier aan mekaar verbind.
Van hartskos tot vêr terug se onthou…
Liefste Ta Gené, dit is vir my so vreeslik kosbaar dat mamma se vriendinne kan saamlees en saam onthou. Baie liefde vir tannie xxx
Sal graag publikasies wil ontvang.
Dankie
😊
Goeie Dag Fransie
Ek het jou aangeteken, jy behoort ‘n epos te ontvang ter bevestiging dat jy wil aansluit. Lekker lees!