Boesmanland Schnitzel

Ek was vir 15 jaar van my lewe in die koshuis. Ek het as graad 1’tjie, haasbek en met knop knieë, by Huis Unitas ingestap in 2001. Ek onthou hoe my ma op Maandae altyd my sakke vir my gaan uitpak het en ‘n bederf onder my kussing gebêre het om die hartseer van agterbly so bietjie beter te probeer maak. ‘n Chomp, ‘n Tinkie of ‘n Dirkie was van my gunstelinge. En dan was daar ‘n briefie met iets soos “Nog net 4 slapies dan sien ons jou weer!”

Koshuiskind wees is nie altyd maklik nie. Ek onthou dat ons op Woensdae aande my ma & pa kon bel. Eers was dit met die Tiekiebokse waar jy geld ingooi en dan word jou oproep eenvoudig uitgesny as jou geld op is. Dit was ook nog in die dae van handsentrales. Ons moes dus eers Brandvlei sentrale bel en vra om ons deur te skakel na 3811. Wanneer my ma of pa uiteindelik antwoord moes jy jou storie vinnig praat omdat ons 3 sussies was wat op ‘n R5 oproep alle nuus moes vertel (Intussen het die buur oom nog ingeluister ook, jy kon sy asemhaling hoor en mamma en pappa het die helfde van jou storie gemis weens die krapperige lyn) Suné het die waagmoed gehad om somtyds selfs kollekteer oproepe te maak as die verlange te veel raak en haar R5 sakgeld alreeds opgesels was. Suné was nog altyd die sussie wat koshuis bietjie moeiliker ervaar het. Sy het op Universiteit nog gestaan en waai en trane afvee totdat my pa se bakkie om die laaste hoek wegdraai. Sy’t naweke haar matrassie by die voet-en-ent van my pale se bed gegooi en daar geslaap. Sy het Sondae as die skemer oor Makkiesplaas se werf sak begin rondtes loop om al die diere te groet, van die hoenders tot die hanslammers.

Wat ek egter die heel beste onthou van koshuiskind wees was die tuiskoms op ‘n Vrydag middag. My ma wat met oop arms op die stoep staan en ons verwelkom. Dan was daar alreeds ‘n bottel met koffie gemaak en het ons saam om die kombuistafel of buite op die stoep gesit en koek en koffie. En Vrydagaande was ‘n hoogtepunt, want my ma het ons bederf met “kitskos uit ‘n plaaskombuis” Dit was altyd varsgebakte brood met wors en sous, of pasta, of tuisgemaakte pizza. Vinnige Kamma Mince Mate of braaipan tjops. My ma het selfs ‘n Hoender wat soos Kentucky smaak – julle moet in ag neem dat ons naaste Take Away plekke in Upington was, ongeveer 220 km van die plaas af. Kakamas het nie in daardie tyd die gerief van ‘n Fego of KFC gehad nie!

Tydens ons grendeltyd het ek bokse met erfgoed van my ma uitgepak en afgekom op haar dagboek van die jaar 2000 (Toe was Suné & Marietjie albei al in die koshuis. So ook Haas en Hannetjie – haar Namibië kinders) Elke naweek het sy ‘n volle spyskaart in haar dagboek beplan. Met notas van “Haas kom huis toe, ek maak sy gunsteling!” Of “Oom Hein is Sondag aand hier, hy hou van viskoekies” Sy het ook elke kind se koshuis nuus neergeskryf van die afgelope week. Iets wat op daardie oomblik dalk nie vir haar veel betekenis gehad het nie, maar wat vandag, 20 jaar later, vir my ongelooflike herinneringe mee bring. En elke Vrydag aand het Boesmanland kitskos op die spyskaart gehad.

Hierdie Boesmanland Schnitzel is iets wat ek as Vrydagaand kitskos sal klassifiseer.

Boesmanland Schnitzel

Recipe by Marli Visser

Hierdie is ‘n lieflike resep uit my Marietjie suster se kombuis! Ons het 6 groot boudtjops gebruik wat ons met voorbereiding in die helfde deur gesny het. Dit verseker dat die vleis deurgaar en steeds sappig is.

BESTANDDELE

  • 6 Groot Boesmanland Boudtjops

  • 3 Eiers geklits

  • Meel

  • Droeë Broodkrummels (Ek het self myne gemaak deur die brood in die son te droog, maar jy kan die gekoopte krummels ook gebruik)

  • Sout & Peper

  • Bietjie Olie vir gaarmaak

METODE

  • Kap die vleis met ‘n vleis hamertjie tot dun en geur dan met sout en peper
  • Strooi tjops weerskante lekker met meel
  • Doop tjops in eier en daarna in broodkrummels
  • Braai dan vinnig in klein bietjie olie tot broodkrummels goudbruin is en die vleis gaar, maar steeds lekker sappig
  • Bedien warm met lekker vars skyfies suurlemoene! Heerlik saam met ‘n vars slaai en kapokaartappels

In nog ‘n dagboek van haar skryf sy: “Marli sê sy hou daarvan as ek haar oor naweke in die aande warm kom toemaak. En haar in die oggende wakker maak met baie soene!”

Mag elke koshuis mamma vandag hierdie lees en wéét hulle word waardeer. Hulle moeite word raakgesien en dit troos verseker in die kleinuur van die nag. Eendag is dit hierdie klein dingetjies waarna die heel meeste terugverlang gaan word!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

2 Comments

Leave a Reply