Die onthou van kos

Die geboorte van ons heel eerste dogtertjie was die inspirasie agter my nuuste hartsprojek wat vandag uiteindelik die lig sien: Brood & Botter Resepteboek.

As vrou en ma kan ons, ons so afsloof in die kombuis. Kosmaak, skoonmaak, onthaal – als om ons gesin te dien. En vir ons kinders kan dit lyk asof daar geen spesiale onthou lê in hierdie daaglikse kombuistyd nie.

Daarom wil ek vir Lizmari dit alles neerskryf (en dalk selfs foto’s bysit!) – dat eendag as sy groter en ouer is sy beter sal kan verstaan dat hierdie die mooiste herinneringe van haar kinderjare was. Soos die eerste keer toe sy spaghetti bolognaise geёet het en haar wange (en vet vuisies!) rooi geblink het van die tamatie lekkerte. Of hoe sy die son se skadus teen my kombuiskas gevang het elke agtermiddag terwyl ek besig was om suurdeeg brood te bak. Hoe ons elke Vrydagaand om kerslig by oupa en ouma eet en sommer net saam lag oor die week se dinge wat verby is. Dan maak ouma Coke-hoender en soetpatats – pappa se gunsteling. Lizmari moet ook hierdie resep hê vir Vrydagaande om haar gesinstafel eendag.

My ma het ‘n muur gehad met 5 fotorame waarin elkeen van ons gesin se “top 5” gunsteling disse was. Ek was maar net 5 jaar oud toe hierdie aktiwiteit een vakansie aangepak word en daarom laat my top 5 veel te wense oor! Maar die herinneringe in elkeen van hierdie kaartjies is meer as wat woorde ooit sal kan vasvang.

Brood & Botter is ‘n resepteboekie wat die geleentheid bied om elke bladsy te vul met top resepte en herinneringe uit hartsmense se kombuise en die onthou agter elke resep.

Dis ‘n resepteboekie wat jou ouma, ma, sussie en beste vriendin in jou kombuis gaan wees met ‘n samestelling van resepte, illustrasies, bybelverse, kombuiswenke en blanko bladsye vir nog resepte en onthou-stories om jou tyd agter die kospotte ‘n heilige tyd te maak.

Brood & Botter is ‘n A5 “keepsake” resepteboekie met die volgende in:

  • 13 Basiese, moet-hê resepte vir elke kombuis
  • 9 Bladsye met prettige geillustreerde resepte en onthaal idees (Bv. Tuisgemaakte pasta asook kos en wyn genote)
  • Kombuiswenke en plaasvervangers
  • Deurlopende bybelverse vir motivering as die dagtaak van mamma en vrou-wees ‘n uitdaging raak
  • 162 Bladsye waarop jy resepte en herinneringe uit hartsmense se kombuise kan neerpen

My hart is dat gesinne Brood & Botter sal gebruik om doodgewone resepte en oomblikke neer te skryf sodat dit jare later kosbare onthou vir kinders en kleinkinders sal inhou. Dat ons sodoende die hart en onthou van kos kan oordra van generasie tot generasie en dat daar ‘n stadige en sielvolle manier van omgaan met kos kan lê-plek kry by ons jonger geslag. Dit alles in ouma of ma se persoonlike handskrif….

Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen dit tot verheerliking van God.  1 Kor 10:31

Kry nou jou kopie van Brood & Botter by ons aanlyn plaaswinkel.