Ek stuur ‘n boodskap hierdie week vir ‘n vriendin met ‘n foto van ons klein babalyfie wat klou aan die koffietafel dat haar kneukels witsit, met ogies wat net-net uitsteek bo die tafel en ‘n televisiekamer besaai met speelgoed in die agtergrond. “’n Opsomming van my lewe tans. Hy’s op sy kop. Onderstebo, deurmekaar, voller en tog ook mooier en lekkerder as ooit tevore!”
Hierdie blog, my kosfotos en resepte was altyd die mooi in my lewe. Dit was die kleur aan ‘n Boesmanlandse prentjie wat somtyds bitter vaal kan raak agv droogte, eensaamheid, eindelose dagtake, ensv. 8 Maande gelede het my lewe egter drasties verander en het ek myself totaal verloor in die vreugde van ma-wees. Van min slaap, min gedoen kry, baie lag, baie huil. Min “uitkom”, nog minder wyn. Om eerlik te wees – daar is min dinge van my huidige lewe wat ooreenstem met die afgelope 30 jaar tot hier toe.
Ma wees is ‘n bitter groot stap waarteen baie mammas jou waarsku. Maar geen raad (of waarskuwings) kan jou voorberei op wat werklik gebeur nie. Dit is wonderlik en absoluut ontnugterend terselfdetyd. Jy besef hoe selfsugtig jy voorheen was. Jy besef hoe baie tyd jy altyd gehad het. Jy’t elke dag soveel meer mooi in jou lewe, maar ook soveel minder tyd om net te sit en die oomblikke in te neem.
Nourie aand besluit ek dit is tyd om net weer bietjie die mooi in ons lewe te vier. Ek steek sommer lekker baie kerse aan. My man kom geskok in die huis in en sy eerste (baie onskuldige) reaksie is “Wie se dood gedenk ons?” Ek kan nie help om snaaks te kry nie. Dit is al wanneer ek nog mooi goed doen – op al die datums wat ek my ma die heel meeste verlang. Moedersdag, haar verjaarsdag, die dag waarop sy Huis toe is. Dan bak ek koek, steek kerse aan, gaan hou piekniek in die veld, drink tee uit mooi koppies.
Tog is die mooi in die lewe vir my so belangrik en iets wat ek ook wil oordra aan my dogtertjie. Ek wil he sy moet eendag as volwasse vrou nie skroom om haar bestes uit te haal en af te stof nie. Want die lewe is mooi, elke dag. En die lewe moet elke dag gevier word met mooi, want ons weet nooit wanneer dit ons laaste is nie. Daar is net een ding seker in ons almal se lewens en dit is dat ons almal eendag gaan doodgaan – tog lewe ons elke dag asof ons verewig hier gaan wees. Ons stel die kuier by hartsmense uit, want “nou is nie die regte tyd nie”. Ons maak vinnige kos en eet sommer net vinnig voor die televisie. Gerieflik. Ons groet nie as ons iemand raakloop in die winkel nie. En gee nie ‘n nag soen nie. Ons drink nie saam koffie nie. Ons gesels nie.
Ek gaan vir die volgende 21 dae myself uitdaag om elke dag iets moois te doen of net die mooi in elke dag te sien en dan te deel dat almal kan sien die lewe is mooi. Selfs al bly jy op ‘n plaas in die Boesmanland en al het die somerreёns nog nie geval soos ons wou gehad het nie. Selfs al is dit die eerste keer wat jy ‘n nuwe jaar moet aanpak sonder jou geliefde. Selfs al is jy ongelukkig in jou werk of al slaap jy nie goed nie omdat jou baba-lyf tande kry. Ons kan ten spyte van dit alles steeds kies om die mooi in elke dag raak te sien.
Ek nooi jou om ook deel te wees van my 21 dae. Deel jou mooi oomblikke op Instagram met #dieleweismooi daarby.
NS- Hopenlik hou die volgende 21 dae ook weer ‘n paar mooi resepte in! Alhoewel daar nou amper meer gespeel as gekook word in my kombuis sal ek graag weer wil begin deel op hierdie blog. Niks sal perfek wees nie. Die fotos ook nie meer gestilleer nie – maar die liefde waarmee als voorberei word is dubbeld soveel as voorheen =)