Die skaap se rib

Vra jy ‘n Boesmanlander wat is sy gunsteling gedeelte van die skaap (om te eet), sal 99% jou antwoord: Die Rib, die Kop of die afval.

Ek en my skoonma het al begin spot dat dit net die “inkomers” in die Boesmanland is wat nie die rib kan waardeer nie. My ma was ook ‘n inkomer en ek vermoed dit is juis waarom hierdie reseppie een van haar staatmakers was. Die Richmond sous is so lekker, jy kom nie juis agter watter snit van die skaap jy saam met hom eet nie. (Die sousie werk ook heerlik oor lieslappies en gewone tjops)

Rib word op verskeie maniere hier in ons kontrei voorgesit. Jy kry hom winddroog, jy kry hom met swart peper, growwe sout en koljander, oondgebak (nie verfomfaai met al wat ‘n ander braaivleis speserye is nie) en dan is daar ‘n staanrib, die koning van alle ribbes. Somtyds kry jy al laasgenoemde in een, ‘n winddroog – eenvoudige – stadig gebraaide – staanrib! Die braai van die staanrib is ook ‘n storie op sy eie. Die rib word teen ‘n hoek van 45 grade skuins langs die vuur gemonteer. En dan gedraai, en gedraai en gedraai….tot in die donkeruur van die nag voordat daar geëet word. Niël Stemmet beskryf dit so mooi in sy boek Sout & Peper: “Later is jy al agter jouself gekuier, maar die rib braai steeds.”

Elke man het sy eie manier van die meesterstuk gaarmaak, die geneuk kom om ‘n goeie kwaliteit rib te kry, met ‘n vetlaag wat krakerig raak wanneer jy hom gaar maak, jy moet die vet hoor bak/braai. Ek stel voor jy sorg dat jy vrinne maak met iemand hier in ons wêreld, lekkerder rib sal jy nêrens anders kry nie!

Hierdie was die heel eerste resep wat ek op my Langtafel blog gedeel het, maar hy is so lekker dat ek hom verseker ook as een van my 15 Onthoukos resepte moet deel.

Richmond Rib

Recipe by Marli Visser

BESTANDDELE

  • 1 kg Boesmanland Skaaprib

  • Sout en Peper

  • 250 ml Tamatiesous

  • 125 ml Asyn

  • 200 ml Suiker

  • 5 ml Worcestersous

metode

  • Sout en peper jou ribbetjie
  • Bak in die oond met die vet kant na bo tot gaar
  • Kook res van bestandele vir 5 minute saam
  • Skep bo-oor die ribbetjie en bak vir ongeveer 25 minute in die sous

Vanmiddag sit ek hierdie ribbetjie saam met oondgebakte eendvet aartappels voor. (Die eendvet is vir my maar volksvreemd, maar dit maak die aartappels heerlik bros!)

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply