Dis tyd vir feesvier

Vir die afgelope jaar was ek op ‘n ongelooflike Nostalgie reis na my grootwordplek, die Boesmanland. Ek het in my plaaskombuis die streekskos van ons wêreld leer kook en ken. Ons Nelle was nog altyd kosmense en toe trou ek ook in ‘n kos-familie in! Met elke geleentheid word die spyskaart sorgvuldig beplan en die vetgemaakte kalf geslag. My oom het na sy jaarlikse kuiers op Makkiesplaas verwys as sy “Vreet-en-vergeet” toere, jou siel word heelgemaak met dit wat aan jou voorgesit word.

Die proses van Langtafel het my siel kom heel. Dankie aan elke leser wat getrou my blog volg en elke resep saam met my probeer. Elke boodskap, epos of foto van ‘n suksesvolle resep laat my hart jubel! Dankie dat ek van 15 lesers op my heel eerste storie kon vorder tot 3 700 rekordlesers op my Skuinskoek storie. Dankie dat julle saam met my opgewonde raak oor die kos geskiedenis van ons land en bereid is om hierdie kultuur te laat voortleef deur tradisionele resepte te probeer en aan te leer.

In my geestesoog het ek gesien hoe ons Langtafel se eerste bestaansjaar vier met ‘n feestelike langtafel gedek in ons dadelboord, met al my hartsmense om in my groot mylpaal te deel. Nou is tog die perfekte tyd terwyl die dadels stadig besig is om te verkleur, die wintersonnetjie wat heerlik bak en die wind wat net ‘n koel briesie is. Wit tafeldoeke met wit linne servette, kraffies wyn en ‘n stadig gebraaide Skaapboud. Varsgebakte brood met tamatiekonfyt en regte plaasbotter.

‘n Spesiale dag of mylpaal moet gevier word! Daarom besluit ek om ten spyte van die streng sosiale inperkings steeds van Langtafel se eerste bestaansjaar ‘n okasie te maak. Ek pak vir my en Manlief ‘n baldadige uitpakbord met Hoender Bon-Bons, platbroodjies, boerewors met ingelegde soetrissies uit my eie kombuis en die heerlikste padbroodjies gevul met boerewors, feta, Mrs Balls chutney en so bietjie roomkaas net vir die liefde.

Ons maak ons laaste bottel rooiwyn oop en klink ‘n glasie op drome, mylpale en Langtafel se eerste bestaansjaar.

Hou gerus hierdie spasie dop, daar is groot nuwe dinge vir Langtafel oppad!

Dis tyd vir feesvier

Recipe by Marli Visser

Ingredients

  • Padkos Broodjies
    Maak ongeveer 15 broodjies
  • 1 Mengsel Platbrood Deeg (Sien resep onder)

  • 1 Eier geklits

  • 200 g Boerewors, gaar en in stukkies gesny

  • 6 Eetlepels Blatjang

  • 2 Wiele Fetakaas, gekrummel

  • Platbrood Deeg
  • 10 g Gis

  • 15 ml Suiker

  • 500 g Witbrood Meel

  • 5 ml Fyn Sout

  • 30 ml Olyfolie

  • 320 ml Lou Warm Water

metode

  • Platbrood Mengsel
  • Meng die gis en die suiker saam met die water
  • Plaas die meel, sout en olie in ‘n mengbak en voeg watermengsel by, meng goed
  • Knie vir ongeveer 10 minute, as die deeg te droog is voeg nog bietjie water by
  • Maak die deeg lekker toe en laat rys op ‘n warm plek tot dubbel in volume.
  • Broodjies
  • Voorverhit jou oond tot 200°C en spuit 2 muffin panne
  • Maak jou vulsel aan en sit dit in die yskas om te verkoel
  • Rol die platbrood deeg ongeveer 3 mm (Baie dun) uit en sny sirkels wat effens oor die kante van jou muffin pan sal uitsteek as jy dit daarmee uitvoer
  • Plaas die sirkels in elke holte van jou muffin pan en skep 2 eetlepels vulsel in elke holte
  • Knyp die degies bo-op effens vas met jou vinger punte (maak dit soos ‘n sakkie toe) en verf die geklitste eier bo-oor
  • Bak die broodjies vir ongeveer 30 min of tot goudbruin bo-op

Hierdie is ‘n heerlike bederf vir ‘n feestelikheid of vir die langpad. Jy kan hom warm of koud bedien.

My wens is dat jy en jou familie ‘n ongelooflike geseënde Paasnaweek sal hê. Mag julle saam rustig raak, brood breek en wyn drink. Mag julle herinner word aan Sy liggaam wat gebreek is en Sy bloed wat gevloei het. Mag julle God se goedheid en vrede ervaar.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply