Droogtehulp Tamaties

Die Boesmanland is droog. Pikswart, stowwerig, kurkdroog. Ek lees verlede week in die nuus van ‘n boer wat sy eie lewe geneem het, met die opskrif: “Die droogte dagvaar nie, dit is banke wat dagvaar” En ek besef ons hele land is droog, tot in die kern van ons stuk aarde. Almal se moed is min.

My sussie skryf dat sy soos ‘n volstruis haar kop in die grond wil druk, om nie die seer en swaar van die droogte so tasbaar te ervaar nie. My pa ry elke dag water om sy skape se dors te les, en snags lees hy Bybel om sy eie tenk net weer vol te maak. Hy sê altyd so mooi: “Marli-bok hier’s niks, maar more lig ek weer my kop, want ek weet hierdie plaas behoort nie aan my nie, dit is die Here sin, en Hy sal sorg vir sy diere. Hy sal sorg vir Sy mense ook”

Verlede week stuur my pa vir ons ‘n boodskap aan wat my tot in my siel kom raak het:

“Dalk wil God deur óns droogte vir iemand anders iets sê.” “Vir wie wat sê?” “Dalk vir die mense wat die bederfpakkies kom aflaai het. Vir hulle wat vir ons voer skenk. Vir al die kinders wat vir ons bid. Dalk wil God hulle leer van gee, leer van bid, leer van help en leer van omgee. Dalk is óns droogte nie nét óns droogte nie. Dalk is óns droogte Suid-Afrika se droogte. Dalk maak God ons gereed vir meer, vir meer gee, vir meer omgee, vir meer dankbaarheid, vir meer “dankie Here” vir dit wat ek het, dalk maak God ons gereed vir bid vir mense wie se name ek nie ken nie. Ek en jy bid elke aand dat God ons sal seën, die week het die seën na my toe gekom met die teerpad langs! Ek weet ons kort reën, maar die week het ek besef, ons kort meer as reën, ons kort mekaar!” – Anoniem

Bietjie dag terug arriveer hier groot lorries met vol vragte op ons klein dorpie – droogtehulp. Die boere kom in dorp toe en die aand word daar ‘n vuurtjie aangesteek om ons weldoeners te verwelkom, en om dankie te sê op ons nederige manier. Daar is bederfpakkies met gebruikgoed en luukse goed, mieliemeel, aartappels en onder andere ook tamaties. Bloedrooi, soetsappige tamaties! En net daar besef ek dat die reën nog nie gekom het nie, maar God het wraggies ook nog nie van ons vergeet nie.

Daardie bloedrooi tamaties gee my nuwe moed. Dis soos soetgoed vir my siel! Ek het heel naweek in my plaaskombuis werskaf om die tamaties te bottel en te bêre. En binnekort…wanneer die Driedorings weer blom en die Boesmangras kniehoogte staan, gaan hierdie botteltjies tamatie-bederwe my steeds herinner aan die goedheid van ons God!

Mikrogolf Tamatiekonfyt

Recipe by Marli Visser

BESTANDDELE

  • 600 g Tamaties

  • 600 g Witsuiker

  • 30 ml Suurlemoensap

METODE

  • Dompel jou tamaties in kookwater en verwyder al die skille, sny dan in blokkies
  • Gooi die opgesnyde tamaties en suiker in ‘n groot mikrogolf glasbak
  • Kook vir 20 min op hoog terwyl jy elke 5 minute roer
  • Kook vir ‘n verdere 9/10 min op hoog totdat jou tamaties mooi deurskynend is
  • Gooi die suurlemoensap by en bottel terwyl die konfyt nog warm is

Mag jy elke keer as jy hierdie resepte maak, hierdie boodskap onthou. Mag God se goedheid en guns jou omvou in maer jare, maar ook in die jare wat dit goed gaan en groenveld volop is! Mag jou getuienisse nie opdroog die oomblik as die hemel se sluise oopgaan nie. Mag jy juis dan Sy oorvloedige liefde, guns en genade deel met die wat honger en dors na Hom.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply