Gin & Tonic Kaaskoek

Koffietyd is vir my groot. As Hoërskool kind onthou ek dat ek naweke van elke koffietyd ‘n okasie gemaak het (Ons Nelle is kosmense en soek geleenthede om te kan eet!) Daar was altyd Plungerkoffie en dan ‘n koek, tert, Pavlova, skuinskoek, varsgebakte beskuit of enige ander soet resep waarop ek my hande kon lê.

Ek dink my liefde vir koffietyd het egter al op ‘n veel jonger ouderdom begin. Ek onthou as klein dogtertjie Wintervakansies op Makkiesplaas. My ma was baie lief vir bou. Aanbou, uitbrei, stoep toebou en dan weer oopbreek. My pa het later jare net eenvoudige dreine reg rondom die huis gebou om my ma in te perk met uitbreidingsmoontlikhede. Een van haar heel beste bouprojekte was toe sy aandring daarop dat Makkiesplaas se ou plaashuis ‘n sonkamer moet kry. Dis vandag nog die vriendelikste vertrek in die huis, met son instroom van buite en ‘n bedjie vir luilekker namiddae.

In hierdie sonkamer is daar ook ‘n klein koolstofie. My ma het altyd vertel hoe hulle in hul Oos-Kaapse skole hierdie stofies in die klaskamers gehad het vir bietjie ekstra hitte. Geen heater is so effektief soos hierdie klein stofie nie! Namiddae so rondom 5 uur het my pa kom stofie brandsteek vir die yskoue Boesmanlandse wintersaande.

In hierdie vertrek het ons dan ook Wintervakansie legkaart gebou, vingerbord gespeel en lang koffiekuiers gehad met RSG in die agtergrond. Ek onthou nog vir “Sê wie” met Nikkie van den Berg en selfs die boekvoorlesings en radio dramas. My ma was mal oor Wimbledon. Wintervakansies is ons DSTV dus aangeskakel en het ons namiddae om leer brei en hekel voor Wimbledon(My ma was ‘n kranige sportvrou – nie iets wat een van ons susters egter ge-erf het nie)

En met elke koffietyd is daar bederf. Tuisgemaakte koekies, my ma se karringmelkbeskuit (ek het op universiteit vir die heel eerste keer winkelbeskuit geproe!), skuinskoek, melktert en enige ander lekkertes waaraan jy kan dink! Kaaskoek was iets wat ons egter nie geken het nie, seker te luuks en te duur vir enige Boesmanlander van daardie tyd.

Vandag wens ek, ek kon my ma oornooi vir ‘n sonsit en moerkoffie kuier met kaaskoek. Gin & Tonic kaaskoek. Net om vir haar te wys dat die lewe soet is vir haar jongste hier in die Boesmanland. Dat ek ook my plekkie in die son gevind het.

Gin & Tonic Kaaskoek

Recipe by Marli Visser

16

Porsies

Hierdie is ‘n lekker “boozy” kaaskoek waarmee jy enige kuiergas sal beindruk. Hy’s nie te soet nie en baie maklik om te maak!

BESTANDDELE

  • 300g Tennisbeskuitjies

  • 150g Bak Margarien, gesmelt (Stork to bake Margarien werk lekker)

  • 2 Suurlemoene

  • 40ml Gelatien

  • 125ml Gin (Ek het Die Mas Kalahari Dry Gin gebruik- fantasties geurig met ‘n amper spesery nasmaak)

  • 125ml Tonic Water

  • 75g Strooisuiker

  • 600g Roomkaas (Cream Cheese)

  • 300ml Vars Room (Fresh Cream)

  • 100g Versiersuiker

  • Enige versierings van jou keuse (vir foto: 1 lemoen, 1 suurlemoen, 3 steranyssase, 1 heel kaneelpypie)

METODE

  • Maak die koekies fyn in ‘n voedselprosesseerder of sit dit in ‘n sakkie en rol dit fyn met ‘n koekroller
  • Rasper (“Zest”) die skil van die 2 suurlemoene en voeg dit by die fyn koekies. Druk die sap van een suurlemoen uit en hou eenkant vir later se gebruik
  • Voeg die gesmelte botter by bogenoemde mengsel en meng goed deur
  • Gooi in ‘n 20cm Kaaskoek pan (“Springform Tin”) wat vooraf goed gespuit is en druk vas met jou vingerpunte. Kors moet lekker kompak wees. Sit in die yskas tot latere gebruik
  • Gooi gelatien in 60 ml warm water en roer tot opgelos
  • Gooi gin, tonic water en strooisuiker in ‘n kastrol en verhit oor ‘n lae hitte terwyl jy aanhoudend roer. Hou aan roer tot alle strooisuiker opgelos is
  • Voeg die gelatien by die Gin mengsel en hou aan roer tot deurverhit en al die gelatien heeltemal opgelos is. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel
  • Klits die vars room met ‘n elektriese klitser tot sagtepunt stadium. Hou eenkant
  • In ‘n staanmenger: Klits die roomkaas, versiersuiker en suurlemoensap (wat jy vroeër uitgedruk het) tot alle suiker opgelos is
  • Voeg die gin mengsel stadig by terwyl jy aanhou klits. Meng alles goed deur
  • Vou die geklitsde room stadig by die mengsel in
  • Haal jou kors uit die yskas. Skep die kaaskoek mengsel bo op jou kors, maak gelyk bo-op. Kap die pan so 3 keer lekker op die toonbank om onnodige lug te verwyder
  • Plaas kaaskoek in die yskas vir ongeveer 6 ure, oornag is ideaal
  • Versier die kaaskoek na smaak en bedien saam met koffie of as nagereg

Notes

  • Vir die versiering van hierdie kaaskoek is die lemoen en suurlemoen opgesny in skywe van ongeveer 5 mm dik en uitgedroog in die oond. Nog lekker idees is ‘n Berrie Coulis, lime curd, verglansde vrugte of self vars vrugte van jou keuse!

Mag jy hierdie week ook die soet van die lewe ervaar. Mag jy proe en weet “God is goed en getrou” Nooi jou hartsmense oor en deel jou sonskynvreugdes met hulle. Later is dit die enigste onthou wat oorbly!

Met liefde uit my sonkamer in die Boesmanland xxx

1 Comment

  1. Hi Ja daardie kaaskoek is so mooi dit lyk of dit voorberei is vir n kompetisie Ek glo die smaak sal fantasties wees Ja ek het baie min geweet van Griet, Ons was salaristrekkers op Kuruman met slegs 3 weke verlof per jaar Dan is ons reguit na Kleinmond waar my skoonouers gewoon het. So by my familie het ek nooit arriveer nie, daarom is “kranige sportvrou” heeltemal vreemde woorde vir my as ek aan Griet dink. Sy sou egter baie trots gewees het op hierdie jongste dogter van haar se bekwaamhede daarvan is ek heeltemal oortuig

Leave a Reply