Hemelkos

My pa is ‘n dogtertjie pa.  Hy’s sag, maar tog ook een van die sterkste mense wat ek ken.  Hy’s ‘n Boesmanlander in murg en been en ‘n absolute sout-van-die-aarde mens (Almal wat hom ken sal hiervan getuig!)  Hy het ook ‘n gawe met woorde en kan iets baie mooi “raak” sê op sy eerlike en eenvoudige manier.

Met ‘n onlangse besoek aan ‘n gesondheidskenner gesels sy met my pa oor sy eetgewoontes.  Dis effe van ‘n teer puntjie, want hy is lief vir kos.  Regte, egte, eerlike kos.  Hy vertel graag hoe my ouma vir hulle blikke met skaapvet en stroop gemeng het vir op brood toe hulle klein was.  (Hulle was 6 kinders – ek wonder hoeveel baksels brood het ouma in een week gemaak!?)  Regte, egte boerekos is deel van sy DNA – hy is so gemaak en so gelaat staan.

Hy se toe met baie eerlikheid dat hy nie bereid is om vars boerbrood met kaiings op te gee nie.  “Want as hy nou die Bybel reg verstaan gaan daar baie vrugtetjies en groentetjies in die hemel wees, maar geen vars brood met kaiings nie.”  My pa het hierdie saak dus al mooi bedink.  Ek glimlag en weet dadelik waar ek (en ons klein dogtertjie) ons liefde vir kos gekry het.  My pa voel op die rype ouderdom wat hy nou is, is daar nie veel vreugdes in jou lewe oor nie.  Als pyn en beweeg stadiger.  Brood en kaiings is van die min dinge wat bietjie die “joints” kan olie en weer makliker laat loop.  Brood en kaiings is sy hemelkos.

Een van my eerste vrae as ek iemand nuut ontmoet is “Wat sal jy as jou laaste maaltyd op aarde wil hê?”  Die antwoord vertel jou baie van ‘n persoon.  Ek dink vars brood met stadige, oondgebakte skaaptjops met net sout, peper en koljander.  En dan van die vetterige vleissous bo-oor die broodjie.  Onopgesmuk en eenvoudig.

So wat sal jou laaste maaltyd op aarde wees?  Jou hemelkos?

NS – Ek het nog nie hierdie week tyd gekry vir ‘n nuwe resep nie – met ‘n eerste tand en ‘n eerste suurdeegplantjie wat ek aan die lewe moes hou was my skedule effe vol!  Dankie vir die wat egter steeds getrou saamlees aan my kosstories – ek belowe ‘n nuwe resep binnekort!  Dalk ‘n suurdeegplantjie en brood resep – laatweet of julle hiervan sal hou?  Ek moet net nog my tegniek onder die knie kry – ek spog egter graag met ‘n foto van my heel eerste poging.