Twee jaar terug het ek hierdie ongelooflike behoefte gehad om ‘n blog te begin. ‘n Blog wat kosstories vertel, herinneringe deel en van my gunsteling resepte uit my ma en ouma se kombuise deel. Ek was toe nog in Stellenbosch en my skrywes het my teruggeneem na ‘n grootword wêreld wat moeilik in woorde vasgevang word. Koolstoof in die winter, hanslammers wat met bottels in die waskamer grootgemaak word. Wintersmorrens wat die ryp dik op ons stukkie gras lê. Die geluid van ‘n vetskaaprib wat stadig in die oond bak, die reuk van warm boerbrood wat gesny word. Somers met goue sonsondergange, suikersoet dadels en lemoenstroop. Koue waatlemoen na ons middagslapie, moerkoffie met soet anys beskuit.
Vandag 11 April 2021 is Boesmanland Langtafel amptelik 2 jaar oud en ek is stil dankbaar dat ek daagliks my ervarings en stories hier kan deel! Ek is dankbaar vir elke leser se epos, kommentaar op my blogs, whatsapps met foto’s van die resepte wat julle probeer het. Ek koester elke herinnering en huil soms saam oor die ma’s, ouma’s en tannie’s wat soveel ongelooflike herinneringe agtergelaat het!
Ek het besluit ‘n spesiale geleentheid moet verseker met nagereg gevier word! Die koek moet ‘n niggie van die kaaskoek sowel as die trifle wees – ek het die oorspronklike resep by ‘n vriendin se ma gekry uit die verre Johannesburg. Na ‘n paar Boesmanlandse aanpassings deel ek dit graag weer met julle om Sondagmiddag gaste mee te vermaak!
Kaaskoek Trifle
Hierdie is ‘n Kaaskoek wat nie gebak hoef te word nie en opgetert kan word as ‘n trifle! Hy’s mooi en vrek lekker
bestanddele
1 Rolkoek
60 ml Sjerrie / Karamel likeur
250 ml Room, styfgeklits
1 Blik Kondensmelk
1 Pakkie Kitspoeding (Vanilla / Karamel geur)
2 Houertjies Gladde Maaskaas
5 ml Vanielje Geursel
Vars vrugte en versiersuiker
METODE
- Sny rolkoek in skywe van 1 cm. Pak skywe in ‘n glasbak en sprinkel met sjerrie / karamel likeur
- Meng kondensmelk, maaskaas, kitspoeding en vanielje geursel goed saam
- Vou die styfgeklopte room by bogenoemde mengsel
- Skep die kaaskoek mengsel oor die rolkoek
- Rond af met vars vrugte en sif versiersuiker bo-oor. Verkoel en bedien koud!
My gebed is dat Langtafel nog in vele kombuise regoor die wêreld gesinne bymekaar sal bring. Dat julle sal kan lees en onthou, maar ook as hartsmense saam sal kan hande vat, brood breek en harte oopmaak.
Die Boesmanland se vlaktes is oop en ongenaak, dis stil en somtyds so ongelooflik ongenadig. Die droogte, die sprinkane, voergee en moedeloosheid wat seëvier in meeste gesprekke. Dankie dat julle my help om die mooi raak te sien, die lekker te onthou en lewe te spreek. Dankie vir julle wat bid, vir julle wat hand uitsteek en help, maar ook vir julle wat lees en omgee!
Langtafel sou nie 2 jaar kon vier sonder julle, my kosbare lesers en hartsvriende, nie. Ek sal julle ewig dankbaar wees.
Met liefde uit die Boesmanland xxx
Hi Marli Dan ook baie hartlik geluk met die viering van die Tweejarige bestaan van die Blog
Ons bid jou toe baie seen en voorspoed met die voortgaan hiermee, mooi fotos en lekker
resepte Hierdie kaaskoek lyk dan ook soos al die vorige fotos en resepte soos n treffer en nog n skeppie asseblief. Liefde Annapop