Kersfees Koekies

Ek kan ‘n boek skryf oor die oumas in my lewe. Ouma Ans was ‘n stoere boervrou wat daagliks moes boerbrood bak in die buite oond om haar 6 kinders en man te voed. Ouma Anna was ‘n fyn vroutjie wat vir jare lank in Zimbabwe aangebly het nadat sy en oupa van die plaas af moes gaan. Ouma Teresa wat haar lewe aan die sendingveld gewy het en nou op haar oudag daagliks bid vir al haar geestelike kinders wat sy wêreldwyd aangeneem het.

En dan is daar ouma Suzie. Sy is gebore in 1934 te Smithfield en was ‘n nooi Wentzel. Ons het altyd gedink sy moet familie van die Queen wees, want sy het baie gesofistikeerde smaak gehad en was uiters gemaklik. Sy was ook op die man af, somtyds TE op die man af wanneer sy ‘n kennis sommer trompop loop met die woorde “Sjoh, jy het darem lekker dik geword, hé?”

My ouma Suzie het die lekkerste kleinkoekies gebak. Sy het, vandat ek kan onthou, vir Oom Chris en Oom Rudi se Koekhoek op Sterkstroom gebak. Dit was later, na oupa se dood, die rede vir haar bestaan. Wanneer ons daar gekuier het, kon sy ons altyd vreeslik vermaak met Koekhoek-stories! My ma het dit ook ‘n Desembervakansie instelling gemaak om die koekie meultjie op te stel en al ons meisiekinders in die kombuis te kry vir kerskoekies bak. Ons mag nie die deeg “gevang en gesny” het nie, want dan was die koekies nie ewe groot nie. Ons mag net die meultjie gedraai het, of balletjies gerol het en met vurke platgedruk het.

Elke jaar met Kersfees stof ek weer my ouma Suzie se resepte af en maak my koekieblikke vol. Ek seën ook graag die ander liefhê-mense in my lewe met my ouma se onthou-koekies. Hierdie resepte laat voel my skoon nostalgies en dit is ‘n voorreg om Ouma Suzie te laat voortleef in plaaskombuise reg oor ons land!

Mag hierdie koekies ook vir jou wonderlike herinneringe van kleintyd-onthou terugbring.

Kersfees Koekies

Recipe by Marli Visser

Bestanddele

  • 750 ml Koekmeel

  • 500 ml Suiker

  • 5 ml Vanielje

  • 7.5 ml Koeksoda

  • 250 g Margarien

  • 2.5 ml Sout

  • 250 ml Grondboontjie Botter (Smooth)

Metode

  • Voorverhit jou oond tot 180°C en spuit jou koekiepanne
  • Room jou botter en suiker saam
  • Voeg al die ander bestanddele by en meng goed deur
  • Maak balletjies, druk effe platter met ‘n vurk en bak tot bros en mooi goudbruin van kleur

Gaan loer gerus vir nog ‘n lekker koekie resep hier.

Hierdie koekies troos my as die verlange gedurende die feesseisoen te veel raak. Ek nooi jou nou om saam met my ‘n koppie soet tee en van ouma Suzie se koekies te kom geniet, en dan lag, huil en verlang ons saam na Ma’s, Ouma’s en ander raakvatter vroue wat heeltemal te vroeg Huiswaarts moes keer.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply