Klapper en Hawermoutkoekies (Crunchies)

Jump to Recipe

Met die geraas wat ons deesdae beleef tussen ‘n verskeidenheid van sosiale netwerke is dit so maklik om jouself te verloor. ‘n Vriendin laatweet vanoggend “Jong, my whatsapp was gisteraand gebreek. Facebook & Instagram ook!” Ons hele wêreld het vir ‘n wyle tot stilstand gekom. En dit het my skoon hartseer laat voel.

Ek is konstant aan die dink en worstel oor waar Boesmanland Langtafel se plekkie in die son is. Met ‘n legio ander kosskrywers reg oor die land wie se sosiale media ‘n lushof vir die oog is, kan ek so vinnig minder as genoeg voel. Vaal voel. Onvoeldoende voel.

Ek vergeet van die reuk van varsgebakte mosbeskuit wanneer die aga stoof rooi gloei op ‘n wintersdag. Ek vergeet die geluid van vet dorpertjoppies wat stadig uitbak in my Defy Super Twenty gasstoof. Ek vergeet die onthou van ouma se ingelegde sousbone en die smaak van haar immergewilde boerbeskuit (met ekstra vet in, want dis lekkerder so!) Ek vergeet om eg te wees aan die plek waar my wortels lê.

Vanoggend het ek met ‘n koppie Moerkoffie op ons stoep tot die kosbare besef gekom dat Langtafel se andersheid juis in die eenvoud lê. My grootwordjare in die Boesmanland en my koskennis uit hierdie wêreld gee my ‘n onregverdige voorsprong. Ons kook nie met kopkennis nie, ons kook met hart, siel en menswees. Ons kook nie net geregte nie. Ons kook kos wat stories vertel van moeilike jare in ‘n swart droeë Boesmanland. Ons maak kos wat vertel van ‘n karmenaadjie (‘n skottel gasvryheid wat op slagdag met die bure gedeel word) Ons kook kos wat voor geswoeg en gesweet is. Wat nie uit winkels uit kom nie, want jou naaste dorp is 140 km.

Ons stories is als behalwe minderwaardig. Ons kos is als behalwe eenvoudig. Ons vertel stories met alles wat ons doen. En dit is tyd om hierdie onthou-stories, grootword-stories, kos-stories te deel!

Ek deel vandag dus ‘n eenvoudige resep – ‘n grootword gunsteling in baie kombuise! Dankie Ma Marinda vir die bekendstelling van hierdie lekkerte ook in ons Nel-Marais huis.

Klapper en Hawermout Koekies

Recipe by Marli Visser

Dankie Ma Marinda vir hierdie treffer reseppie! Hy werk heerlik in ‘n kosblik, vir ‘n eetdingetjie op die rak, in die langpad kostrommel asook vir ‘n nagereg bedien saam met soet, swart moerkoffie na ‘n lang Saterdagaand kuier!

bestanddele

  • 250g Margarien

  • 15ml Goue Stroop

  • 5ml Koeksoda

  • 250ml Klapper

  • 375ml Koekmeel

  • 250ml Suiker

  • 500ml Hawermout

  • 125ml Neute, gekap

metode

  • Meng alle droeë bestanddele (Meel, hawermout, klapper, suiker en neute) in ‘n medium grootte mengbak.
  • Smelt die margarien en stroop saam oor ‘n lae hitte. Sodra dit begin kook verwyder van die hitte en voeg koeksoda by.
  • Gooi bg gesmelte mengsel by die droeë bestanddele en meng lekker deur – met ‘n houtlepel of met die hand (Pasop net vir brand!)
  • Spuit ‘n bakplaat met koswerende sproei. Druk dan die hawermout mengsel goed vas in die bakplaat – gebruik jou hande om als stewig vas te kan druk!
  • Bak by 180°C vir ongeveer 20 minute. Sny in vierkante sodra jy dit uit die oond verwyder en laat dan in die pan tot heel afgekoel.

Ek lees onlangs die aanhaling deur ‘n baie wyse, anonieme persoon: “Ons het niks in hierdie lewe ontvang om dit vir onsself te hou nie…”

En ek glo dit met ons familie resepte en stories ook. Geen ervaring word geskep om alleen te ervaar nie. Ons moet deel. Ons moet ons stories, gevoelings, ervarings en resepte deel.

Mag jy hierdie week die voorreg hê om uit te reik na iemand anders en te deel. Deel jou hart, deel jou trane, deel jou vreugdes. Maak ‘n koppie tee en ‘n baksel Hawermoutkoekies en gaan gee iemand anders weer nuwe moed.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply