As ek terugdink aan my kinderjare is daar ‘n paar dinge wat uitstaan. Ons het die voorreg gehad om kaalvoet op die Boesmanlandsevlaktes met draadkarre rond te hardloop, Gert van die buurplaas het vir my, my heel eerste blikkitaar met ‘n blou en wit BP olieblik gemaak en my heel eerste lappop, met die naam van Lilly, het my pa vir my by Kakamas se NG Kerk basaar gekoop.
Dan is daar my gunsteling eetgoed. Marshmallow en Rice Crispie blokkies, Marmite Wieletjies, beskuitjie fudge en Timbaaltjies. Ons is nie seker of hierdie die amptelike naam is en of dit net een van my ma se nuutskeppings was nie, maar hierdie ongelooflike krakerige lekkerte is iets wat almal moet probeer! Ek raak kinderlik opgewonde oor al hierdie eetgoed, dis asof ek weer die vryheid en uitgelatenheid van kindwees kan proe.
Ek gesels verlede week met ‘n vroutjie oor haar kleintyd gunstelinge. Sy raak liries oor fudge en hoe haar ma dit altyd vir haar in hul mikrogolf gemaak het. Sy vertel ook oor haar ma se gebakte melkterte en hoe hulle (nou alreeds volwassenes met hul eie kinders) verlede week nog familie rusie gehad het omdat haar boetie die hele melktert opgeëet het wat vir hulle almal bedoel was.
Ek deel vandag hierdie resep met julle met die hoop dat dit dieselfde wonderlike onthou sal terugbring as wat dit in my lewe gebring het!
Timbaaltjies
bestanddele
- TIMBAALTJIES
2 Eiers
5 ml Suiker
250 ml Water
250 ml Koekmeel
5 ml Bakpoeier
Knippie sout
- KARAMEL SOUS
500 ml Melk
60 ml Goue Stroop
125 ml Suiker
10 ml Mielieblom
METODE
- TIMBAALTJIES
- Voeg al die bestanddele bymekaar en klits tot goed gemeng -lyk amper soos ‘n pannekoek degie
- Verhit ongeveer 5cm diep olie in ‘n pot of in jou elektriese braaipan
- Verhit jou ystervorms in die olie vir ongeveer 5 minute
- Druk die verhitte vorms in die deeg totdat alle kante bedek is (bokant van die vormpie moet egter nie deeg op hê nie)
- Bak in die warm olie en help dan met ‘n mes net so effe van die vorms af totdat hul afval
- Dreineer op handdoek papier en bedien vars met karamel sous / heuning / gouestroop
- KARAMEL SOUS
- Verhit melk, stroop en suiker oor lae hitte en roer totdat suiker opgelos het en laat dan 15minute lank kook
- Maak mielieblom met bietjie koue water aan tot gladde pasta en verdik sous daarmee. Laat prut tot lekker konsistensie
Die realiteit van COVID 19 is besig om te kom nesskop in my kop en my lewe. My wens is dat jy jou oë kan toemaak en vir ‘n wyle weer die sonskyn van kindwees kan ervaar. Dat jy kan proe en weet dat die lewe goed is…ten spyte van.
Mag seën jou volg waarookal jy gaan.
xxx Met liefde uit die Boesmanland
Baie besonders
Ek glo dit smaak net so lekker soos wat dit mooi lyk
Ai hoe wens ek nou ek kon daardie lappop en die blik kitaar sien dit moet baie
oulik wees vir n klein dogtertjie
Tannie Annapop, hoe lekker om van tannie te hoor! Dankie dat tannie saamlees. Pappa vertel graag van die balle wat ouma gemaak het vir hulle met kersfees? Ek is seker tannie hul het ook baie spesiale, tuisgemaakte kinderspeelgoed gehad