Die laaste 2 oggende was lekker koud in die Boesmanland. Gisteroggend het daar ‘n swaar bloute oor Namies kloof getrek toe die son sy eerste strale uitsteek.
Sulke oggende verlang ek na grootword kuiers by oupa George en Ouma Suzie op hulle plaas net buite Sterkstroom. Jy het in die oggende wakker geword met die reuk van warm krummelpap. Eunice was al van vroeg af besig om ons ontbyt voor te berei op die Aga stoof in ouma se plaaskombuis. Ons almal moes saam aansit vir ontbyt. Ouma het ‘n klokkie gehad wat sy gelui het vir Eunice om die trollie met eers krummelpap, dan geroosterde brood met plaasbotter, Marmite en konfyt en heel laaste die tee te bring.
Die tafel was gedek met groot papborde, regte paplepels, bottermesse en lapservette. Die tee is bedien in koppies en pierings, nie bekers soos ek dit vandag in my huis doen nie.
Verder onthou ek die houtvloer in die gang en die stoep reg rondom die huis. Die Bloekomwoud langs die huis waar ons dae lank kon boomhuise bou. Die boekrak met Haas Das se nuuskas boeke is my gunsteling onthou.
My man is nie lief vir pap nie. Dus is dit vir my ‘n hoogtepunt as my sussie kom kuier en ek ‘n groot pot pap op die stoof kan sit. En as daar nie ‘n kuier in die nabyheid is nie, maak ek ‘n groot pot pap en eet alleen vir ‘n week lank daaraan. Dan hou my Oupa en Ouma onthou ook vir die hele week aan. Wat ‘n voorreg om sulke sorgelose kinderherinneringe te hê!
Krummelpap
BESTANDDELE
375 ml Water
5 ml Sout
500 ml Mieliemeel
Metode
- Bring die water en sout tot kookpunt
- Voeg die mieliemeel stadig by en roer net effens met ‘n vurk deur
- Sit die deksel op en draai jou plaat op sy stadigste
- Laat die pap gaar stoom vir 25 – 30 minute en bedien dan met lekker warm melk vir ontbyt. Of met sous en wors vir aandete!
Wanneer die winter se koue sy kombers om ons kom vou maak jy vir jou ‘n pot krummelpap en jy onthou warm dae voor die aga in ‘n plaaskombuis.
Hierdie pap voed ligaam, siel en gees.
Met liefde uit die Boesmanland xxx