Lam Pitas met Tzatziki & Microgreens

Ek het al in ‘n vorige blog vertel van ons Vrydagaand spyskaart as ons 3 sussies na ‘n lang koshuisweek vir die eerste keer weer die Boesmanland se lug inasem. My ma wat op die stoep staan met haar arms wydgesprei om ons by die huis te verwelkom. Dan moerkoffie en koshuisnuus opvang en vanaand kitskos wat my ma voorberei in haar piepklein plaaskombuis. My ma se gunsteling Vrydagaand “kitskos” was Pita brode. Sy is dus my inspirasie agter die resep wat ek hierdie week deel.

Vir Augustus is my Langtafel tema “Local is lekker”. Ek wil eer gee aan die kleinboere en entrepreneurs wat elke dag hard werk om vars produkte op ons tafels te sit. Een van hierdie entrepreneurs is Ananda van Heerden van New Life Microgreens in Stellenbosch. Dis ‘n vars en nuwe konsep wat die plaas na elke tafel bring – of jy in die hartjie van die stad of in ‘n afgeleë plek soos Pofadder bly. Jy kan op hul webtuiste saad bestel en dan jou eie Microgreens groei binne 10 dae. Dit is pragtige tafelversierings, maar gee na 10 dae ook lieflike geur aan kos. Van tuin tot tafel!

Lam Pita met Tzatziki

Recipe by Marli Visser

bestanddele

  • PITA BRODE (Genoeg vir 12 Pitas)
  • 4½ K Koekmeel

  • 1 Pakkie Kitsgis

  • 10 ml Sout

  • 500 ml Louwarm Water

  • 50 ml Olie

  • 25 ml Suiker

  • VULSEL (Genoeg vir 4 Pitas)
  • 6 Lam Boud Tjops

  • ¼ Kop Rooikool, fyn opgesny

  • 2 Wortels, geskil en in fyn repies gesny

  • 1 Wiel feta met swartpeper, gekrummel

  • ½ Avocado in skywe gesny

  • 2 Koppies New Life Microgreen Salad Mix

METODE

  • PITA BRODE
  • Meng meel, sout en suiker goed saam. Voeg dan kitsgis by
  • Gooi water en olie by en knie vir ongeveer 10 minute tot n lekker sagte deeg vorm en laat rys tot dubbel in volume
  • Verhit jou oond tot 220°C
  • Knie die deeg af en verdeel in 12 gelyke dele
  • Bestrooi jou werksoppervlak met meel en rol elke balletjie deeg in ronde pitas van ongeveer 5 mm dikte
  • Plaas pitas op gesmeerde bakplate, bedek met skoon, klam kombuisvadoeke en laat rus vir 15 tot 20 minute
  • Bak in oond vir ongeveer 10 minute of totdat pitas mooi uitgepof en goudbruin is
  • VULSEL
  • Marineer die tjops vir ten minste 1 uur in ‘n marinade van jou keuse (Daar is heerlike marinades te koop maar jy kan hierdie tuisgemaakte een ook gebruik: 15ml Olyfolie, 2.5ml Fyn Suurlemoenskil, 30ml Suurlemoensap, 10ml Gedroogde Oreganum, 30 ml Fyn Knoffel, 2.5 ml Sout & 1.25ml Varsgemaalde Swartpeper)
  • Braai tjops in ‘n pan vir 5 minute aan elke kant tot gaar maar steeds sappig. Laat rus dan vir 10 minute
  • Sny vleis in repies van ongeveer 5 mm dik
  • Sny die pitas in die helfde en vul dit met die pers kool, wortels, avocado, gekrummelde feta, lam en Micogreens
  • Bedien met Tzatziki

Mag jy hierdie week met nuwe moed aanpak. Mag jy ‘n vars uitkyk op jou situasie hê. Mag jy elke dag die vreugde van groei en nuwe lewe ervaar!

Met liefde uit ‘n lekker koel Boesmanland xxx

Leave a Reply