Liewe Ma

Ek het eenvoudig grootgeword. Met min goed waaraan ons kon waarde heg. Maar die binnekamers van ons harte was vol! En as ek nou terugkyk oor die 27 jaar wat agter my lê is ek stil tevrede en opreg dankbaar oor die grondslag wat gelê is.

Ek het die laaste paar maande net keer op keer besef hoe ongelooflik onmisbaar ‘n ma is. (En hiermee laat ek glad nie pa’s agter nie! My pa is ‘n “Two-in-one”, maar kom Vadersdag sal ek die manne in my lewe die eer gee wat hul toekom!)

Sodra die Boesmanland sy winterskombers aantrek is dit asof die verlang net weer sy weg vind tot in my binneste en kom nesskrop vir ‘n paar maande. Dalk is dit omdat die winter met die koms van moedersdag aangekondig word. Of dalk is dit net bietjie jaloesie oor alle foto’s in tydskrifte en sosiale media waar ma’s en dogters uitbundig saam is. Of dalk is dit omdat ek meer tyd agter my stoof spandeer met my ma se resepteboek en notas oor ons familie.

Ek het eenkeer gelees van ‘n bekende wie se ma oorlede is. Sy het dit so raak beskryf. Sy sê jy leer met dit saamleef. Maar dan eendag gebeur daar iets. Jy het goeie nuus wat jy wil deel. Of die swaar en seer raak jou oor. En dan, net dan is dit weer soos dag een. Die damwal breek, want jy besef daar is nie ‘n lyn hemel toe om net vinnig vir ma te bel nie. Somtyds gebeur dit in jou alleentyd, ander kere in ‘n parkeer area van ‘n winkelsentrum, of aan ‘n tafel vol mense. En jy kan dit nie keer nie.

Hierdie is glad nie ‘n swartgallige of “kry-my-jammer” skrywe nie – inteendeel. Hierdie is net om elkeen te herinner om die lewe te koester. Om die oomblik waarin jy is met oorgawe te ervaar en te LEEF. Om jou ma lief te hê en te koester, of dit nou jou biologiese ma, jou stiefma (stief is so harde woord – dalk eerder jou tweede ma?), jou skoonma of sommer net ‘n aanneem ma is. Om dankie te sê vir opstaan vroegdagmore om brood te bak, wasgoed op te hang as die ryp nog witsit op die drade. Om dankie te sê vir skoolklere wat in die winter warmgemaak is voordat ons half 5 moes opstaan en aantrek. Vir die warmkombers wat aangesit word voordat ons gaan slaap. Dankie vir die rybeker met koffie en tee wat altyd gereed staan as ons die langpad vat. Dankie vir die smse, voice boodskappe of net die vinnige herinnering van “Sonneblomkind ons bid vir jou”. Dankie vir die feit dat ek elke oggend nogsteeds kan begin met “More ma!” Dankie dat ma ons klere regmaak en vetkolle uitvryf. Dankie dat ma ons liefhet net soos wat ons is. Onvoorwaardelik.

So my uiteinde van hierdie kort en eerlike skrywe? 1. Ek mis my ma nogsteeds na 14 jaar. Almal wat al hierdie pad moes stap sal verstaan. 2. Ek is oorvloedig geseënd met ‘n Ma Marinda, ‘n Ma Liezel, ‘n Ma Marietjie, ‘n Ma Suné, ‘n Ma Tertia (En dan laat ek nog vele ander Ma’s uit!). Ek het ‘n tweede kans gekry en sal nooit weer nalaat om dankie te sê en om te sê en te wys hoe lief ek julle het nie. My waardering ken geen einde!

Liefste Ma, ek het jou liewer as wat woorde kan beskryf. Dankie vir wie jy is. Dankie vir wat jy doen. Dankie dat jy ons belange altyd bo jou eie stel. En moet asb nie te hard wees op jouself nie, jy is perfek, jy is volmaak, jy is geseënd en ‘n ma duisend! Jy is ‘n engel uit God se hand.

1 Comment

  1. Hi Marli EK SNIK Hartroerend is hierdie skrywe. Ja oorlede Griet dit was haar naam wat sy gekies het,( maar vir my is Anna Marie mooier) was die eerste familie lid wat ons verloor het hier ver oorkant die waters 19 000 kms ver Dit sal vir altyd onvergeetlik bly, ek weet nie maar om oorsee n tyding te kry van n geliefde wat gesterf het is regtig onbeskryflik. Marli ek het nie vir mamma geken nie Ons was gewone salaris trekkers en kon nie gaan kuier nie. Wel ek leer haar nou ken deur jou skrywe, dis veel beter. Die ou gesegde spreek mos As jy ouers wil ken vra hulle kinders. Wat ek wel deur my trane wil se is GRIET sou vreeslik trots op julle al drie dogters gewees het, dit kan jy verseker glo. Marli ek is baie lief vir julle en ook vir mamma. Hou vol met jou goeie skrywe en mooi reseppies Nooit sal jy kan besef wat dit beteken vir ander mense nie. Liefde Annapop en Willie

Leave a Reply