Liefste Pa Biltong Stokkies

Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer – Psalm 119:71

My pa is ‘n stoere Boesmanlandse boer. Die Boesmanland is al wat hy ken. ‘n Paar jaar terug beplan ek en my man ons eerste oorsese trippie, my pa het aandagtig sit en luister. Na afloop van die gesprek het hy net opgemerk: “Hy sal graag Pella wil sien, want hy was nog nooit daar nie. Oorsee was nou nog nooit ‘n begeerte nie”

Ons almal se pa’s het sekere eienskappe wat hul uniek maak. My pa se voete is plat op die aarde. Die boonste versie is een van sy gunsteling gedeeltes uit die Bybel – hy is dus met die hand uitgekies om hier in die Boesmanland te wees. Een van die kosbaarste (en hardste) lesse wat ek by hom geleer het is “Swaarkry kweek karakter”

Ek onthou hoe ek kleintyd saam met my pa motorfiets gery het dat my blonde hare in die wind gewapper het. Elkeen van ons sussies het ons eie overall baadjies gehad en ons het streng beurte gemaak om saam met my pa veldtoe te ry. Daar was Nickerballs asvaal van die stof in die bakkie se glovebox – as jy lank genoeg gesuig het, het die Nickerball klein geraak en verskillende kleure gekry. My pa het my graag in die kruiwa voor die donkie laat sit terwyl hy vir my lammersterte pikswart en krakerig braai en dan het ons saam geëet dat die vet blinksit om ons monde.

Hy het ons grootgemaak na aan die aarde, lief vir die klein dingetjies in die lewe. Hy het ons grootgemaak om die mooi raak te sien al is dit net kaiingklip en droëe driedorings wat om ons is. En die kosbaarste wat hy ooit aan ons kon gee – tyd. Hy het ten spyte van lang en snikheet warm dae nogsteeds namiddae tyd gemaak om saam met ons af te koel in die klipdam langs die huis. Hy’t in die aande tyd gemaak om vir ons Bybel te lees en te bid. Hy’t tyd gemaak om ons harte te hoor.

Met sy groot, growwe hande het hy al my trane afgedroog. Van matriekafskeid, universiteit tot op my troudag.

My pa, my skoonpa en my man is genoeg om elke dag gevier te word! Hulle uithou en aanhou in die Boesmanland. Hulle absolute passie vir die boerdery. Hulle harte, omgee en gebed.

Ons vier dus elke dag Vadersdag. En soveel te meer in die winter wanneer dit Biltong tyd is! Ek deel graag ‘n heerlike resep vir voorgereg Biltong stokkies – dis maklik en baie vinnig om te maak. Die vulsel van Biltong en Parmesaan kan vervang word met enige iets van jou keuse. Nog ‘n paar voorstelle:

  • Bacon & Chillie Sous
  • Bovril/Marmite & Kaas
  • Gedroogde Kruie & Himalaya Sout
  • Opgekapte Songedroogde Tamaties & Kaas

Biltong Stokkies

Recipe by Marli Visser

Hierdie is die perfekte voorgereg – krakerig en sout met subtiele koljander geure! Bedien dit saam met tuisgemaakte rooi uie marmelade.

Bestanddele

  • 2 Today Puff Pastry Deegrolle

  • 1 – 2 Koppies Fyn Biltong

  • 45ml Fyn Parmesaan Kaas

  • Funky Ouma Biltong & Parmesan Speserye

  • 1 Eier

metode

  • Voorverhit jou oond tot 200°C en spuit 2 bakplate goed met kleefwerende kossproei
  • Ontdooi Today Puff Pastry en rol albei deegvelle effens uit
  • Strooi die biltong, parmesaan asook speserye na smaak oor een vel deeg
  • Plaas die tweede vel deeg bo-oor en rol goed uit sodat biltong lekker deur deeg gewerk word. (Vou en rol, vou en rol) Rol deeg tot ongeveer 5mm dik
  • Sny in repies van 1 cm breed en ongeveer 10 cm lank
  • “Twist” elke repie en plaas dit op die bakplaat
  • Klits eier effens met ‘n vurk en verf elke repie met eiergeel. Bak vir 10 minute, draai dan alle repies om en bak vir ‘n verdere 5 – 10 minute tot goudbruin
  • Bedien saam met tuisgemaakte rooi uie marmelade of enige sagte kaas as voorgereg of as ‘n “snack” voor jou volgende braai!

Mag jou dae hierdie week vol mooi wees. Mag jou oë die seëninge raak kyk in jou lewe en die lewens om jou.

Liefde Groete uit die Boesmanland xxx

2 Comments

  1. Hi Marli Ja so leer ek ook my broer ken deur jou skrywe. Die fotos is so mooi maar natuurlik huil ek ook nou weer Die resepte sal absoluut heerlik wees Marli ek glo Griet geniet ons almal baie met die dingetjies waarmee ons besig is. Liefde jou tannie Annapop uit Nieu Zealand

Leave a Reply