Dis ‘n heerlike koue en reënerige dag hier in die Boesmanland! En alhoewel ek glo aan die lang en tradisionele manier van als doen het ek tog besluit om vandag ‘n vinnige Ciabatta resep te probeer vir saam met my pa se boontjiesop vir aandete (Hierdie resep deel ek ook binnekort met julle)
My tannie het altyd gesê dat meelgoed is haar dood. Brood, beskuit, vetkoek. En daardie gene loop verseker ook dik deur my are. Jy kan my omkoop met ‘n warm sny varsgebakte brood (enige vorm van brood) met dik gesmeerde plaasbotter bo-op, so dik dat jou tande merke maak wanneer jy daardeur byt. Dit bied ‘n soort troos teen die lewe se wreedheid, teen die werklikheid van Covid wat besig is om oor te neem, dit bied ook troos en warmte as die werêld buite toegevou is in ‘n misreën kombers.
Ek deel graag hiedie lekker maklike Ciabatta resep deur Herman Lensing.
Maklike Ciabatta
2
Brodebestanddele
500g Koekmeel
500ml Lou warm water
1 Pakkie Kitsgis (10g)
Knypie sout
Ekstra meel vir panne
metode
- Verhit jou oond tot 220°C, spuit 2 bakplate en sif ‘n laag meel op beide plate
- Los die gis op in die lou warm water (Jy moet jou vinger vir 10 tellings in die water kan hou sonder om te brand)
- Voeg al die bestanddele in die mengbak van ‘n elektriese menger
- Gebruik die k-Beater en meng die beslag vir 10 minute op hoë spoed of totdat die deeg ‘n los bal vorm in die middel van die menger
- Bedek die deeg met kleefplastiek en laat rys op ‘n warm plek vir ten minste 30 minute of totdat die bak volgerys is
- Gooi ‘n dik laag meel op jou werksoppervlak en keer dan die deeg op die oppervlak uit
- Verdeel die deeg in twee dele (hanteer so min as moontlik), vorm dit tot lang brode en plaas op die bakplate
- Bak vir 25 minute of tot die brood ‘n mooi goudbruin kleur het
Ek nooi jou nou hartlik om te kom brood breek aan my tafel en te vergeet van die koue en wrede werklikheid wat oral om ons heers. Ons dien ‘n groot en genadige God, onthou dit.
Met liefde uit die Boesmanland xxx