As ek ‘n lys moet maak van my 10 gunsteling Suid-Afrikaanse kosse sal Malva poeding ‘n ere plek hê.
Dit laat my terugdink aan Sendingbasaar in Nanabees se stoor. Dit was ‘n jaarlikse gebeurtenis op ons kalender: Al die boere en werkers van die omgewing het bymekaar gekom by Tannie Leigh en oom Frances Visagie se plaas, Nanabees, en dan is daar basaar gehou dat dit goed gaan! Ons sussies was verantwoordelik vir die Tombola tafel. Ons het vir weke pakkies toegedraai en nommertjies geknip! Die nagereg tafel was altyd neffens die tombola tafel. En wat ‘n lekkerte was dit nie as kind om op die voersakke te kon rondspeel en pudding te eet vir al 3 maaltye van daai dag nie. Ons ouers was hard aan die braai en borde kos skep en dus salig onbewus van ons doen en late.
Dit herinner my ook aan kerkbasaar op Kakamas. Ek onthou hoe van die basaar gangers al onder openingsgebed gebondel het by die vleis asook vars gebak tafels. (Met hul hande op hul gekose broodjie of pudding net om te verseker dat dit steeds aan hul behoort nadat Dominees AMEN geuiter het)
Met my koskaste wat nou begin leeg raak soek ek toe ‘n vinniger & makliker weergawe van die gebakte Malva….en wat beter as een met ‘n alkoholiese twist (Vir die bevoorregdes wat op dag 32 nog ‘n koppie Amarula te spaar het!) Ek sê altyd Amarula proe soos ‘n Afrika sonsak. Die geur daarvan hou vir my ‘n belofte in van mooi, van goue tye wat voorlê en ook van ‘n land wat wild en ongerep lê. En dus is hierdie vir my ‘n baie gepaste keuse met Vryheidsdag wat gister regoor Suid-Afrika gevier is.
BEstanddele
- Poeding
250 ml Koekmeel
5 ml Bakpoeier
125 ml Wit Suiker
1 Eier
22.5 ml Appelkooskonfyt / Gouestroop
5 ml Koeksoda
250 ml Melk
Knypie Sout
- Amarula Stroop
62.5 ml Margarien
250 ml Suiker
125 ml Kookwater
250 ml Amarula
Metode
- Poeding
- Voorverhit jou oond tot 180°C en spuit ‘n oondvaste glasbak (of blikbekers!)
- Room eiers en suiker saam
- Voeg die stroop/konfyt, meel, bakpoeier en sout by en meng als goed deur
- Voeg melk by en strooi koeksoda bo-oor. Klits vinnig tot als goed gemeng is
- Gooi die mengsel in jou glasbak en bak vir 15 tot 20 minute of tot goudbruin bo-op
- Amarula Stroop
- Smelt botter op ‘n lae hitte
- Voeg die res van die bestanddele by & verhit. Kook totdat suiker opgelos is
- Verwyder van die hitte en gooi oor die warm pudding sodra dit uit die oond kom
Notes
- Indien daar Amarula stroop oor is, bêre dit in ‘n botteltjie in jou yskas. Dis heerlik oor ‘n soet pannekoek saam met vanielje roomys!
Wanneer jy hierdie nagereg eet moet jy dink aan al die redes hoekom ons bevoorreg is om in Suid-Afrika te bly. Laat die soet vir ‘n oomblik insink.
Ons land is op sy knieë, en dit is nou ons, die inwoners van Suid-Afrika, se plig om saam te staan en weer ons land te laat opstaan!
Met liefde uit ‘n koue Boesmanland xxx