Meer oor my

Bly te kenne! My naam is Marli Visser, ek is die hart, die kok, die fotograaf en ook die skottelgoedwasser agter Boesmanland Langtafel. Ek het groot geraak op ‘n plaas hier in die Boesmanland en my hart smag steeds na bietjie-dag terug se kos en saamwees om ons kombuistafel. Want dis nie net kos nie, dis ‘n leefwyse van opregtheid, oorvloed en eenvoud.

My storie is ‘n kosstorie. My passie is om resepteboeke te lees, kosfoto’s te kyk, mamma-kos te maak en al wat ‘n vreemde kos avontuur is aan te pak.
My storie het begin as sproetgesig plaaskind met rys, vleis en aartappels om ons kombuistafel. Die reuk van regte suurdeeg boerbrood. Vetterige skaapsterte om die skermvuur. Skuinskoek, kaiings, moerkoffie en boerbeskuit. Toe kom my koshuisdae met Marmite toastbrood, blou roereier, bredies en volronde vetkoeke. Ek is tot vandag toe nie baie mal oor bobotie nie. Ek onthou vakansiekos met tannie Ters se hoenderpastei uit Katriena se hand, my ma se Marmite blaardeeg wieletjies, melkkos
in die winter, tannie Elize se appeltert, ouma Suzie se love biscuits en ouma Ans se inlê sousboontjies.

In 2019 trek ek weer saam met my man terug Boesmanland toe. My hart jubel! Met die jare groei ons gesin en so skryf ons saam aan die mooiste storie hier in die platteland. Ons leef stadig en eenvoudig. Ons leer daagliks lesse oor verskeie dinge. En ons kom elke dag bietjie nader aan Vader.

Met Boesmanland langtafel deel ek graag die stories en lesse wat ons hier in ons dorre wereld leer! Ek deel die resepte, staaltjies en ook raad van die generasies voor ons. Soveel kosbaarhede wat nie verlore mag gaan nie! Kom leer en onthou saam met my. Kom sit aan en kuier tot laat. Kom wees sommer net stil.


Met liefde uit die Boesmanland xxx