Bly te kenne! My naam is Marli Visser, ek is die hart, die kok, die fotograaf en ook die skottelgoedwasser agter Boesmanland Langtafel. Ek het groot geraak op ‘n plaas hier in die Boesmanland en my hart smag steeds na bietjie-dag terug se kos en saamwees om ons kombuistafel. Want dis nie net kos nie, dis ‘n leefwyse van opregtheid, oorvloed en eenvoud.
My storie is ‘n kosstorie. My passie is om resepteboeke te lees, kosfoto’s te kyk, mamma-kos te maak en al wat ‘n vreemde kos avontuur is aan te pak.
My storie het begin as sproetgesig plaaskind met rys, vleis en aartappels om ons kombuistafel. Die reuk van regte suurdeeg boerbrood. Vetterige skaapsterte om die skermvuur. Skuinskoek, kaiings, moerkoffie en boerbeskuit. Toe kom my koshuisdae met Marmite toastbrood, blou roereier, bredies en volronde vetkoeke. Ek is tot vandag toe nie baie mal oor bobotie nie. Ek onthou vakansiekos met tannie Ters se hoenderpastei uit Katriena se hand, my ma se Marmite blaardeeg wieletjies, melkkos
in die winter, tannie Elize se appeltert, ouma Suzie se love biscuits en ouma Ans se inlê sousboontjies.
In 2019 trek ek weer saam met my man terug Boesmanland toe. My hart jubel! Met die jare groei ons gesin en so skryf ons saam aan die mooiste storie hier in die platteland. Ons leef stadig en eenvoudig. Ons leer daagliks lesse oor verskeie dinge. En ons kom elke dag bietjie nader aan Vader.
Met Boesmanland langtafel deel ek graag die stories en lesse wat ons hier in ons dorre wereld leer! Ek deel die resepte, staaltjies en ook raad van die generasies voor ons. Soveel kosbaarhede wat nie verlore mag gaan nie! Kom leer en onthou saam met my. Kom sit aan en kuier tot laat. Kom wees sommer net stil.
Met liefde uit die Boesmanland xxx

Hi Tannie Anna! My deur staan altyd oop – sal so lekker wees as tannie eendag hier saam met my…
Hallo Michelle! Ag wat ‘n lekkerte om nou op hierdie boodskap af te kom. Baie dankie vir jou mooi woorde…
Hi Marli. Ek het toevallig op jou website afgekom opsoek na ‘n skilpadjie resepte. Ek love jou webtuiste en wat…
Hi Marli O die kaasmaak dit sal ek graag van wil hoor. Een van die dinge wat ek nog nie…
Hi Marli, ek het nou op hierdie Sondag op jou website afgekom. En dit is nou vir my so interessant…
Hi Marli. Ek het toevallig op jou website afgekom opsoek na ‘n skilpadjie resepte. Ek love jou webtuiste en wat jy doen. Jy is sommer ‘n inspirasie vir my. Ons het so 1, 5 jaar terug ‘n karoo plasie gekoop en ek spook nog om plaasvrou en beroepsvrou te wees. Jou webtuiste en stories het vir my nuwe hoop gegee.
Hallo Michelle! Ag wat ‘n lekkerte om nou op hierdie boodskap af te kom. Baie dankie vir jou mooi woorde – en dankie dat jy saamlees. Beroepsvrou en plaasvrou is nogal ‘n uitdaging – maar daar is NIKS wat by die stilte en vrede kom as ek na ‘n lang dag in die dorp my skoene kan uitskop en ontspan op ons stoep nie! Mag jy ook so stukkie hemel op aarde vind wat jou hart gelukkig maak xxx
Hi Marli, ek het nou op hierdie Sondag op jou website afgekom. En dit is nou vir my so interessant en lekker om al die resepte en stories te lees. Ek bly nou al so 2 maande saam met my kêrel op sy plaas in die Boesmanland, so jou raad en resepte beteken die wêreld vir my. Dit voel of die soort leefwyse besig is om heel verlore te raak. So dit is vir my wonderlik. Ek kom van Vanrhynsdorp af en ons plaas is op die Kliprand-Pofadder pad. My kêrel is vreeslik nuuskurig oor waar Makkiesplaas is? Watter deel Boesmanland? Jy sê jy bly ook nou op ‘n plaas saam met jou boer. Is dit ook in die Boesmanland? Sorry ek vra nou so uit, maar jy sal self weet hoe lekker dit is om jou soort mense te kry en ontmoet en leer ken. Dat al het jy hulle nog nooit eers ontmoet nie – hulle klaar soos familie voel.