Melkkos uit my Plaaskombuis

Jump to Recipe

Op die reuk van pypkaneel vlieg ‘n engel deur my huis” sing ek lig van gemoed saam met Willie Strauss (ook ‘n boorling van ons wêreld) terwyl ek besig is om frummels te vryf in my meel en botter mengsel. Daar is net iets nostalgies aan die reuk van kaneel of dit nou in pannekoek, melkkos of melktert is!

My ouma was wonderlik vernuftig as dit by die maak van melksnysels kom. Ons jonger generasie is egter altyd opsoek na iets wat vinniger en makliker is – so die ontstaan van frummels!

Gedurende die winter van 2021 het ek hierdie lekker Melkkos resep ontwikkel en stilleer vir Fitbest Training se blog – vir die engelse resep kliek gerus hier! Met die naweek se koue wat ons stadig bekruip het ek dit goedgedink om die resep te ver-Afrikaans vir al my gereelde lesers.

Melkkos

Recipe by Marli Visser

bestanddele

  • 125g Koekmeel

  • 2.5ml Sout

  • 35g Koue botter, in blokkies gesny

  • 1.5L Volroom melk

  • 2 Kaneelstokkies (Heel)

  • 1 Lourierblaar

  • 60ml Bruinsuiker

  • 10ml Vanielje Geursel

  • Kaneelsuiker vir opdiening

metode

  • Vryf die botter blokkies met jou vingerpunte in die meel en sout totdat dit goed gemeng is en ‘n lekker krummelrige tekstuur het.
  • Verhit melk, suiker, kaneelstokkies en lourierblaar in ‘n groot pot oor medium hitte. Sodra dit begin kook kan hitte verlaag word.
  • Gooi meelfrummels stadig by die warm melk terwyl jy aanhoudend klits (Dit verseker dat alle frummels egalig versprei en nie klont nie).
  • Laat die Melkkos prut vir 10 tot 15 minute oor ‘n baie lae hitte terwyl jy elke nou en dan klits.
  • Voeg vanielje geursel by, roer deur en verwyder dan onmiddelik van die hiite.
  • Bedien warm met kaneelsuiker bo-oor.

My wens vir jou hierdie week is dat vreugde deur jou menswees sal spoel soos die reuk van pypkaneel in ‘n plaaskombuis. Mag dit elke stukkie donker van jou siel deursypel!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply