Mosbolletjies

Mosbolletjies vermoed ek moet van dieselfde kosfamilie kom as skuinskoek. Die deeg is baie dieselfde, die anys gee albei sy kenmerkende soet geur en albei het ‘n ongelooflike troostende uitwerking op die gemoed.

Vandag sou ons amptelike laaste dag van inperking gewees het en ek dink daar is baie mamma’s (en verseker ook ‘n paar pappa’s) wat vanaand iets nodig het om te troos. My Wellington sussie is doodstil. Sy het laasweek verslag gedoen op ons familie groepie: “Dit is te koud om te swem, ons trampolien se laaste springs is besig om die gees te gee en ons jongste is besig om rekords te breek met min slaap.” Dit was laaste wat ons van haar gehoor het… Vanaand is my hartbegeerte om vir my vêr sussie ‘n stukkie warm Mosbrood oor te stuur en haar so te verseker dat als ok sal wees. Sy is ‘n ongelooflike mamma en vrou, self in hierdie besonderse uitdagende tyd. En ek dink elke mamma verdien vanaand hierdie troos!

Mosbolletjies vat my terug na ons plaaskombuis in die winter. Dit herinner my aan koue aande wat die Aga stoof in die kombuis aangesteek is en die pasgebore lammetjie voor die stoof in ‘n kombers toegedraai is omdat die Boesmanland se koue ongenadig kan wees. Ek onthou die blou kastrolletjie waarin melk gekook is vir ons oggend koffie. Ek onthou die reuk van varsgebakte brood. Meelgoed was nog altyd my swak punt!

Daar is niemand wat Mosbolletjies kan bak soos tannie Keppies Spangenberg nie. Ek onthou in my Hoërskool dae is ons wintertyd naweke bederf met ‘n Eetsaam Mosbrood saam met soet, swart moerkoffie soggens.

Hierdie resep is wel nie tannie Keppies sin nie (Ek vermoed sy bak met ‘n regte suurdeeg plantjie), maar ek belowe jou as jy hom op ‘n koue oggend eet saam met moerkoffie is hy net so lekker!

Mosbolletjies

Recipe by Marli Visser

bestanddele

  • 500 g Koekmeel

  • 125 ml Suiker

  • 10 g Kitsgis

  • 25 ml Anys

  • 300 ml Louwarm Melk

  • 100 g Botter, gesmelt

  • ‘n Knypie Sout

Metode

  • Sif al die droeë bestanddele saam in ‘n groot mengbak
  • Voeg die gesmelte botter by en meng dan die louwarm melk bietjie vir bietjie by om ‘n lekker sagte deeg te vorm
  • Knie goed tot glad en lekker elasties, ongeveer 10 – 15 minute
  • Bedek die degie met kleefplastiek en laat op ‘n warm plek rys tot dubbel in volume
  • Smeer/spuit jou broodpan goed. Knie jou degie af, vorm balletjies en pak dit teen mekaar in die broodpan
  • Laat weer rys op ‘n warm plek tot dubbel in volume. Verhit intussen jou oond tot 180°C
  • Bak jou broodjie tot mooi goudbruin bo-op, ongeveer 30 minute. Smeer ekstra gesmelte botter bo-oor om die korsie sag te kry en ‘n mooi glans te gee

Nou vou jy hierdie brood in ‘n doek toe tot die volgende maaltyd, jy bedien vir hom warm met regte botter (Die sout smaak van regte botter komplimenteer hierdie brood) En dan wéet jy….als sal ok wees. Hierdie gaan ook verby gaan. Eendag is hierdie gesinstyd kosbare herinneringe waarna julle gaan terug verlang.

Groete uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply