‘n Naweek van kaasmaak in die Boesmanland

Tuinsalie verwelkom ons uitbundig met ons aanland op die Vissers se werf Vrydagmiddag 14h00.  Die pers blomme reik baldadig na die blou Boesmanlandse hemelruim.  Daar kom ‘n Afrikaan brak swaaistert aangehardloop voor sy eienaar uit.  Tiaan Visser – die man wat die Boesmanland op die map geplaas het met sy kase eg aan ons kontrei.

Tiaan het sy kaasmakery ongeveer 11 jaar terug uit hul plaaskombuis begin.  “Elke aand na werk het ek die pot hier op die stoof kom sit en begin.  As ek daardie groot pot vol warm melk so nader aan my getrek het kon ek sommer net die rustigheid oor my voel kom.  Terapeuties.”  The Kalahari Cheesemaking Company is nou alom bekend vir sy tuisgemaakte kase met hul kreatiewe name:  Die Afrikaner (‘n 6 maand verouderde kaas van skaapmelk),  die Boesmanlander (‘n Cheddar styl bokmelk kaas, verouderd vir 12 maande), Wit Skimmel (Camembert styl kaas gemaak met ‘n mengsel van bok en koeimelk), Jongbok (‘n Sagte kaas gemaak van volroom bokmelk), Grootrivier Slaaikaas (Tuisgemaakte feta) en nog vele meer!  Van hierdie kase spog ook op die rakke (en borde) van Restaurant Kleinjan in die Kalahari.

Met al die uitbreidings het Tiaan al uitgeskyf na sy kaaskamer net agter die huis.  Daar’s ‘n vriendelike tafel met ‘n rooi geruite tafeldoek net voor die deur vir koffie breuke wat ons vrolik innooi na die plek waar ons vir die naweek lank gaan leer oor die kuns van kaasmaak.

Ons naweekprogram verloop as volg:

Vrydag – Dag 1

  • Begin met die maak van Feta, Mozzarella en Haloumi met plaasvars koeimelk.
  • Teoretiese bespreking van tegniese, chemiese en biologiese prossesse in die algemene maak van kaas.
  • Begin met die maak van Joghurt en Labneh met poeiermelk.
  • Vorming van Feta.

Saterdag – Dag 2

  • Vorming & finalisering van Haloumi.
  • Verhitting, knie en afkoel van Mozzarella.
  • Dreinering van Joghurt.
  • Begin van Farmers Cheese met vars gekoopte koeimelk.
  • Finalisering van Feta.
  • Begin met Stir Curd Cheddar met ‘n mengsel van plaasvars bok- en koeimelk.
  • Uitpak en bespreking van ‘n verskeidenheid kaas platters.  Geniet die platter met bier!

Sondag – Dag 3

  • Verwyder Stir Curd Cheddar en Farmers Cheese uit die vorms.
  • Maak Lactic Cheese (soortgelyk aan ‘n maklike kombuis Ricotta) met UTH melk (geboks).

Ons sluit die naweek op ‘n hoogtepunt af waar ons saamkuier in die plaaskombuis en ‘n verskeidenheid geregte met ons kase voorberei en saam om die langtafel geniet!

Op die Spyskaart

  • Kaas Truffles
  • Joghurt & Feta Dip
  • Pizza met Mozzarella & Labneh
  • Diepgebraaide Farmer’s Cheese Curds
  • Kaas Souffle
  • Ricotta, roket & filo gebak
  • Renate se brood met tuisgemaakte bokmelk botter
  • Lactic Cheese smeer met vars kruie uit die tuin
  • Camembert met karamel pekanneute en makataan
  • Soetwyn en Rosyntjie Fromage Blanc

Na ‘n besige naweek in die kaaskamer stap ons ‘n draai op die werf.  Dit word vir my vinnig duidelik dat Tiaan graag die oorvloed van die seisoen gebruik in sy kase en in die kombuis.  Als word stadig voorberei, met sy hande sodat hy liggaam en siel deel kan word van die proses.  En daar word die beste gemaak van wat die Boesmanland hom kan bied.

So tussendeur die werkery vertel Tiaan ons ook van nuwe dinge op die horison vir sy kaasbesigheid en die persoonlike storie daaragter.  “Ek het ‘n doringboom getatoeer op my arm om my elke dag daaraan te herinner dat ek soos ‘n doringboom moet wees – ek wil skadu bied vir ander om in te rus.  Hierdie boom vang my oog elke keer as ek aan’t beduie raak, dan moet ek stil word en onthou waaroor die lewe eintlik vir my gaan.”  Alhoewel ons naweek besig was het daar ‘n gevoel van sielsvrede oor my toegesak.  Ek het voorwaar kom rus in die skadu van die Vissers se menswees en gasvryheid.

Ons elkeen het daardie een hartsbegeerte.  ‘n Droom wat jy eintlik weet net total buite jou bereik is weens een of ander rede.  Kaasmaak was myne. 

Vir meer besonderhede oor toekomstige kaasmaak werkswinkels kontak gerus vir Tiaan of hou sy webwerf dop:

Whatsapp:  082 825 2704

Email: thekalaharicheesemakingcompany@gmail.com

Website:  www.thekalaharicheesemakingcompany.co.za

1 Comment

Leave a Reply