Geduld en uithouvermoe in die kombuis was nog nooit een van my sterkpunte nie. Ek was dus BAIE dapper die dag toe ek besluit het ek gaan nou my eie suurdeegplantjie kweek. (Of ek was net desperaat omdat die plantjies wat jy aanlyn koop so peperduur is en ek ‘n huismamma wat nie ‘n reuse salaristjek aan die einde van elke maand kry nie =)
Ek het braaf by ChatGPT gaan aanklop met die vraag “How can I start my own sourdough starter. I really want to bake my own healthy bread for my family.” En so is Anna, my suurdeeg plantjie, toe gebore!


Die proses om die plantjie te begin was vir my vreeeeslik frustrerend en stadig. (En ek moet noem dat ek ook eers 2 plantjies weggegooi het voordat ek sukses behaal het met nr3!) Maar die genot wat ek daaruit put om weekliks vir my gesin self ‘n gesonde suurdeegbroodjie te bak, en een wat ek altyd weggee, maak die begin soveel beter.
So kies ‘n week wat jy braaf voel. En natuurlik heel week tuis is om na jou suurdeeg baba om te sien! As jy sukkel – gesels met my. Ek sal moed inpraat en help waar ek kan! As jy egter een van daardie persone is wat die kuns van “stadige suurdeeg” vinniger wil bemeester – laatweet my ook. Ek deel GRAAG my Anna baba’s uit en geniet dit vreeslik om te sien hoe hulle al landwyd sorg vir vele genotvolle kombuisoomblikke.
‘n Suurdeegplantjie vir beginners
Daar is ‘n groot verskeidenheid maniere hoe om jou eie plantjie te begin. Die volgende metode het vir my goed gewerk en daarom beveel ek dit graag aan. Anna (my suurdeegplantjie) is in April 2024 gebore en ek het al sedertdien vele afstammelinge uitgedeel vir enige iemand wat bereid was om hul hand aan suurdeeg te waag.
Bestanddele
250ml Steengemaalde meel (Ek verkies Gideon Milling se witbroodmeel) – (Hierdie is net om mee te begin. Jy gaan daagliks nog so 125ml meel nodig he tot jou plantjie begin lewe.)
250ml Louwarm water (Gefiltreerd, sonder chloor)
Metode
- Meng die meel en water lekker in ‘n glasbottel tot ‘n beslag soortegelyk aan die van plaatkoekies. Bedek die bottel met ‘n skoon lappie wat jy sommer rondom vasmaak met ‘n plastiekrekkie. (Dit laat die vloei van lug toe, maar verhoed dat daar enige fisiese items in jou plantjie beland.)
- Sit die plantjie op ‘n veilige plek, by kamertemperatuur, maar nie in direkte son. (Ideaal is tussen 20 – 24◦C)
- Vir die volgende 5 tot 7 dae gooi jy helfde van die plantjie weg en voed dit dan weer met gelyke hoeveelhede kamertemperatuur water en steengemaalde meel. Bv. Gooi ‘n halwe koppie suurdeegplantjie af. Voed dit wat in die bottel oorbly weer met ‘n halwe koppie water en ‘n halwe koppie steengemaalde meel. Meng goed, bedek en laat weer staan vir 24 uur.
- Rondom dag 5 – 8 behoort jy borreltjies te begin sien by jou plantjie asook die kenmerkende “suur” reuk te begin ruik. Jou plantjie sal ook begin groei tussen elke voeding. (Indien jy nog geen lewe sien teen dag 7 nie – hou net aan! My 3de plantjie poging se lewe was eers daar op dag 11…..)
- Sodra jou plantjie verdubbel in volume na ‘n voeding (gewoontlik so rondom 6 ure nadat jy dit gevoed het) kan jy begin om jou eerste suurdeegbrood te bak!)
Notes
- Iets om te onthou: Indien jou plantjie skimmel/muf/”mould” ontwikkel of enige ander reuk as die kenmerkende suurdeeg reuk het is dit beter om hom weg te gooi en van voor af te begin!
- Probeer om elke dag op dieselfde tyd te voed (Presies elke 24 uur) Dit verseker dat jy vinniger lewe sal waarneem.
- Onthou: Faktore soos die weer en kwaliteit van meel wat jy gebruik kan ‘n invloed he op hoe lank dit vat voor jou plantjie aktief raak. (Dis BAIE makliker om ‘n plantjie in die somer aan die gang te kry as in die winter!)
Van my gunsteling suurdeeg kenners om te volg op sosiale media:
Goeie boeke & blogs as suurdeeg hulpbronne:
- The Sourdough School Blog
- The Sourdough School – Vanessa Kimbell
- Super Sourdough – James Morton
Ek sal bogenoemde hulpbronne aanvul met tyd.
Hierdie suurdeegplantjie kan sodra hy verdubbel in volume na ‘n voeding gebruik word in ‘n legio resepte! Suurdeeg het ongelooflike waarde vir ons mikrobioom en daarom kan enige deeg resep “gesonder” gemaak word deur die byvoeging van suurdeegplantjie. Brode, pastas, fyngebak, muesli. Dis nou tyd om kreatief te raak en jou gesin se gesondheid eerste te stel!
Hou die blog dop vir verdere suurdeeg resepte, raad en natuurlik oor hoe om jou plantjie in stand te hou.
Baie liefde uit die Boesmanland xxx