Ouma Niempie se Vetkoek

As daar nou een gereg is wat Suid-Afrika se erfenis mooi opsom is dit vetkoek en kerriemaalvleis. Of vetkoek en tuisgemaakte konfyt. Of my gunsteling: vetkoek en dik gesmeerde plaasbotter met Bovril. ‘n Vetkoek is eg aan enige kombuis: die blinke, die plaaskombuis of selfs die veld kaia. Dit herinner my waarvan ek vandaan kom, en dit maak my hart warm oor ons land en sy ryke kos geskiedenis.

As koshuiskind het ons baie vetkoek geëet, hulle was lekker vullend (Groot, solliede vetkoeke – redelik gewigtig) As jy al ooit in ‘n koshuis was sal jy nou presies weet waarvan ek praat. Op Makkiesplaas het my ma egter hol, uitgepofde, goudbruin vetkoek op die Aga stoof gebak. My groot Ouma Niempie se resep. En ek raak vandag steeds liries oor hierdie vetkoek. Toe ek bietjie dag terug vir Manlief hierdie delikatesse voorberei, het hy baie geskok gevra: “Nou waarom sal jy jou vetkoek wil hol maak? Hoeveel gaan ek nou moet eet om vol te kom” Hy het egter gou die geheim agtergekom – hierdie vetkoek is juis so lekker omdat jy hom boeppêns kan stop met plaas lekkernye!

Ek deel graag hierdie stukkie kosliefde uit my ouma Niempie se kombuis.

Ouma Niempie se Vetkoek

Recipe by Marli Visser

BESTANDDELE

  • 6 K Koekmeel

  • 1 pakkie kitsgis

  • 125 g Margarien

  • Knypie Sout

  • Genoeg Louwarm water om lekker deeg te vorm

Metode

  • Knie die deeg baie goed, laat rys vir ongeveer 2 uur lank
  • Knie die deeg bietjie af. Knyp stukke deeg af, rol dit in lang worse
  • Druk die gerolde deeg plat (ongeveer 7mm dik) op ‘n meelbestrooide oppervlak en sny in die grootte wat jy verlang
  • Druk weer elke vetkoek lekker plat (ongeveer 5 mm) voordat jy dit in warm olie gooi. Hierdie is juis die geheim! Die warm olie en platgedrukte vetkoek veroorsaak dat die finale produk lekker hol en uigepof is.
  • Braai tot bruin en draai dan om dat die anderkant ook bruinlyf kan kry
  • Plaas op handdoek papier om te dreineer en bedien dadelik terwyl die vetkoek nog effe warm en lekker bros is

Met liefde uit die Boesmanland xxx

1 Comment

Leave a Reply