Paasbolletjies

Ons Nelle was nog altyd groot op geleenthede op die Christelike kalender soos Kersfees & Paasnaweek. Gister kom daar ‘n fototjie op my facebook om my te herinner aan Paasnaweek 2009, die heel eerste Paasnaweek sonder my ma. Skielik tref ‘n verlange my wat mens nie kan verduidelik nie.

Daar het intussen 10 jaar verloop en hierdie Paasnaweek wat voorlê is my heel eerste Paasnaweek as verloofde, wat beteken kuiers met twee families. Ek het die voorreg om almal in die Boesmanland te hê en sommer net hierdie stilwees oomblikke in dankbaarheid te deel. Dankbaarheid vir ‘n God wat ons liewer as lief gehad het, dankbaar vir Paasnaweek herinneringe saam met my ma, maar ook dankbaar vir die ongelooflike liefhê mense met wie ek nou my lewe kan deel.

Die Boesmanland is heerlik koel en bewolk vanoggend en ek voel skoon nostalgies. Daarom deel ek ‘n lekker meelgoed resep – ideaal vir ‘n saamwees ontbyt, maar ook heerlike saam met moerkoffie in die namiddag. (Resep verkry vanuit Sarie Kos)

Paasbolletjies

Recipe by Sarie Kos
Servings

12

Buns

BESTANDDELE

  • Bolletjies
  • 250 ml Warm Melk

  • 90 g (100 ml) Botter, gesmelt

  • 1 Eier

  • 65 g (80 ml) Suiker

  • 10 g Sout

  • 10 g Kitsgis

  • 15 ml Fyn Kaneel

  • 15 ml Gemengde Speserye

  • 500 g (890 ml) Koekmeel

  • 140 g (250 ml) Rosyne

  • Kruise
  • 60 ml Koekmeel

  • 15 ml Olie

  • 30 ml Water

  • Glasuursel (Kook saam vir 5 minute)
  • 100 ml Water

  • 50 ml Suiker

METODE

  • Bolletjies
  • Meng melk, botter, eier, suiker, sout en gis in ‘n middelslag-mengbak
  • Voeg speserye en genoeg meel by tot ‘n stywe, kniebare deeg
  • Knie vir 5-8 minute of tot deeg ‘n gladde voorkoms het en laat deeg dan op ‘n warm plek rys tot dubbel die volume
  • Voeg die rosyne by en knie af tot die rosyne goed ingemeng is. Laat rys weer tot dubbel die volume, sowat 30-45 minute
  • Verdeel in gholfbalgrootte bolletjies (80 g) en plaas stewig teen mekaar in ‘n broodpan
  • Laat rys weer tot dubbel die volume, weer sowat 30-45 minute. Verhit intussen jou oond tot 180°C.
  • Kruise
  • Meng bestanddele vir kruise saam tot dit ‘n stywe pasta vorm
  • Spuit kruise oor die bolletjies met ‘n versiersak
  • Bak vir 30-35 minute tot goudbruin en gaar
  • Glasuursel
  • Verf die bolletjies met glasuursel sodra dit uit die oond kom en laat afkoel

Mag Jesus se storie in Lukas 22 met julle bly hierdie Paasfees.

Liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply