Vanoggend word ons wakker met sagte druppels wat op ons sinkdak val. Die grond ruik klam. God se genade is goed. Ons sien al vir die laaste week hierdie reënt nader kom op die weervoorspelling. Maar hulle ken nie die Boesmanland nie. Hulle gee ons gewoontlik hoop en dan kom daar niks daarvan. Die boere is al so moeg van hoop, en probeer, en moedhou net vir mooiweer wat vinnig oortrek en elders loop reën. Ek mag dalk nou effe swartgallig klink, maar dit is ons realiteit. Ons gaan nie meer op hoor-sê nie, ons gaan nie meer op weerkaarte nie – hierdie is tussen God en Sy mense van hierdie stuk aarde.
En vandag het Hy net weer vir ons kom wys Hy is in beheer. Hy is in beheer van ons droogtes, fisies en emosioneel. Hy het vanoggend aan my kom openbaar dat ons Sy rentmeesters is. Die Boesmanland behoort aan Hom, Hy het ons slegs hier geplaas om die grond te bewoon en te bewerk ter ere van Sy naam. Hy SAL sorg, want ons is Sy mense, hierdie is Sy grond en dit is Sy diere. Hy sal die vensters van die hemel vir ons oopmaak en vir ons reën uitgiet, meer as wat ons kan gebruik – Maleagi 3:10
Vir ons Nel familie was pannekoek nog altyd ‘n teken van goeie tye wat voorlê. Want sodra die eerste druppels op die stowwerige aarde geval het, het my ma haar mengsel aangemaak en die pannekoek pan uitgeruk. Dan was dit tyd vir feesvier! Somtyds het die reën opgehou nog voordat die pannekoek klaar was, andere kere het ons vir dae lank pannekoek geëet.
Dit is nou 11 uur en die weertjies sit steeds mooi die Boesmanland in. Ons reënmeter se blad is al nat, en ons sien uit na nog baie genade water wat gaan val! Ons bid vir ‘n groenjaar in die Boesmanland. Ons bid ook vir ‘n blommejaar in ons Namakwaland. Intussen eet ons pannekoek in geloof vir die goed en lekker wat voorlê!
Pannekoek
8-10
Pannekoekebestanddele
2 Eiers
500 ml Water
250 ml Meel
5 ml Bakpoeier
100 ml Olie
Bietjie Sout
metode
- Klits alles saam met ‘n elektriese klitser tot goed gemeng
- Laat staan vir ongeveer 1 uur of meer voordat jy dit bak
- Bak die pannekoek in ‘n lekker warm pan en sit voor soet of sout
Ons gaan vanaand op ons knieë om ons Vader te dank vir Sy groot genade. En dat Hy nog nie van ons Boesmanlanders vergeet het nie.
Met liefde uit ‘n koel Boesmanland xxx