Pasteis De Nata (Portugese Vla Tertjies)

My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel,

daar’s iemand…iemand in anys, daar’s ‘n vrou in elke geur.

– Sproeireën, DJ Opperman

Melktert is trooskos. Dit was ‘n Vrydagmiddag bederf wanneer ons koshuiskinders op die plaas arriveer het na ‘n lang en honger week in die dorp. Melktert en moerkoffie. My ma het gehou van ‘n “Maklike Melktert” reseppie – sy’t nie die geduld gehad om ure lank deeg te staan en gooi om die perfekte skilferkors te kry nie, ek self skraap nog die moed bymekaar!

Vandag deel ek ‘n anderster soort melktert resep, dit is ‘n maklike Portugese Pasteis resep deur Wilhelmina Thirion Garção (Vir die wat nie weet nie, sy’s ook ‘n platteland kind wat in ons wêreld grootgeraak het) Haar woorde: “Hierdie tertjies is lelik, maar vrek hulle is lekker!”

Pasteis De Nata

Recipe by Wilhelmina Thirion Garcao

BESTANDDELE

  • 1 Today Pastry Deeg, Ontdooi

  • 500ml Room

  • 8 Eier Gele

  • 30 ml Koekmeel

  • 125 ml Suiker

  • 1 Suurlemoen se skil

  • Strooisuiker en Kaneel vir afronding

METODE

  • Voorverhit jou oond tot 200°C . Spuit 2 muffin pannetjies.
  • Meng die room, eier gele, koekmeel, suiker en suurlemoenskil in ‘n pot en plaas dit op medium hitte. Klits heeltyd tot mengsel verdik.
  • Haal onmiddelik van die hitte af as dit begin kook. Indien jou mengsel skei sit dit net vinnig is yswater sodat dit weer kan bind.
  • Klits vir ongeveer 8 minute baie goed totdat mengsel lekker glad en dik is.
  • Rol jou deeg oop, verwyder die blou plastiek en rol weer styf op.
  • Sny ringetjies van ongeveer 1 cm dik. Druk plat en voer muffin houertjies daarmee uit.
  • Skep vulsel in die houertjies en bak vir ongeveer 20 min of totdat die tertjies mooi verbruin het bo-op.
  • Meng strooisuiker en bietjie kaneel en strooi onmiddelik oor die tertjies as dit warm uit die oond kom.

Hierdie is nou ‘n maklike melktertjie wat vreeslik spoggerig vertoon! Bak hom gerus as die dominees kom vir huisbesoek.

Met liefde uit ‘n koue Boesmanland xxx

Leave a Reply