Roosterkoek in ‘n takskerm

Van my beste grootword herinneringe is in ons takskerm op Makkiesplaas. My pa het vir ons ‘n skerm gebou met droeë asbosse en ‘n sementvloer met ‘n ronde braai in die middel van klip. Ons het elke Saterdagaand gaste oorgenooi en lang kuiers gekuier onder die Boesmanlandse sterrehemel om ‘n staanvuur. Dit was en is steeds een van my gunsteling plekke op aarde. Ek kan my oë toemaak en die reuk van ‘n Boesmanlandse tjoppie op die kole ruik, die rook en wind in my hare voel en hoor hoe word daar jolig en luidrugtig stories vertel.

Wanneer ons sussies teruggaan huistoe vir Makkiesplaas kuiers word die eerste aand altyd in die skerm spandeer. Die muur met al ons gaste se boodskappe wat dateer uit 1996 is steeds ook daar! Een van my ooms het in sy boodskap verwys na die “Vreet en vergeet toer” wat hulle jaarliks gebring het tot op Makkiesplaas. Vir elke persoon wat kom kuier het is die rooitapyt uitgerol en al die Boesmanlandse bestes is voorgesit.

Op elke aand se braaispyskaart was roosterkoek. My pa het eerste die vleis gebraai en wanneer die kole al effe koeler was, was dit my Suné-suster se verantwoordelikheid om die roosterkoek te braai. Ons het aand na aand vreemdes uit ver plekke beindruk met hierdie baie eenvoudige meelgoed. Roosterkoek is ekstra lekker wanneer dit op ‘n oop vuur gebraai word. My pa verkies sy roosterkoeke oopgesny en krakerig gebraai van alle kante, dik geplak met uitgebraaide vet en enige tuisgekookte konfyt.

Ek deel een van my ma se vinnige en maklike resepte met julle. Heerlik as dit bedien word met regte plaasbotter, tuisgemaakte konfyt en kaas uit ons kontrei.

Vir die lekkerste Noord-Kaap kaas gaan kyk gerus op The Kalahari Cheese Making Company se webtuiste.

Roosterkoek in ons takskerm

Recipe by Marli Visser

BESTANDDELE

  • 4 K Koekmeel

  • 6 Tl Bakpoeier

  • 75 g Margarien

  • 5 ml Sout

  • Volroom Vars Melk

  • Water

METODE

  • Meng alle droeë bestanddele deeglik
  • Voeg 60ml water en 60 ml melk by en begin meng. Voeg bietjie bietjie water en melk by en hou aan knie en vloeistof byvoeg tot ‘n lekker sagte deeg vorm
  • Deel in balletjies (ongeveer tennisbal grootte) en druk effens plat (ongeveer 2cm). Braai op matige kole tot gaar

Met die lente wat nou stadig aan begin kop uitsteek is dit die ideale tyd om weer uit te kom. Om ‘n vuurtjie aan te steek en ‘n roosterkoek op die kole te braai! Om die sterre te kyk, die aandlug te voel en sommer net weer die Here te dank vir die eenvoudige goed in ons lewens, want dit is wat die lewe die moeite werd maak.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

2 Comments

  1. Hi Marli As ek so lees wat jy skryf dan bring dit ook in my lewe weer my kinderdae terug op Makkiesplaas. Hulle se mos Elke generasie moet beter doen as die vorige generasie. As ek kyk na Makkiesplaas se geskiedenis en ek mos n grafiek teken dit sou dit presies gewees het soos die trappe van vergelyking goed Oupa Makkie en Ouma Lette beter Pa Maans en Ma Ans beste Andre en Griet
    Nou het ek nie n woord vir die 4de generasie nie wat dan jy is, Wel ek doen sommer nou my eie ding
    ‘Stylvol” ‘Kleurvol’ ‘Smaakvol’ en vir die mense oor die waters oorsee “ons koester dit ‘ want dis onbereikbaar ver, maar binne in ons hart

    • Tannie Annatjie, ai hoe mooi is tannie se boodskap. Ek wens ek kon vir een aand al die generasies ook so bymekaar hê op Makkiesplaas vir ‘n takskerm kuier! EK onthou nog ons groot familie Kersfees in 1997…dit was seker die enigste geleentheid waar ons darem 3 generasies saam daar kon hê. Goue herinneringe. Ons verlang na tannie hul, en na alle ander familie oor die waters xxx

Leave a Reply