Hierdie is ‘n ongelooflike moeilike blog om te skryf – om verskeie redes:
1. Ek het al voorheen geskryf oor die droogte en daar word elke week daaroor berig in die media. Die tema “Droogte” is eintlik al holrug gery. Dit is egter steeds die realiteit van baie boere in ons land (en ons distrik)
2. Elke boer, elke boervrou, elke gesin ervaar die droogte anders. Wat ek deel is my persoonlike opinie. Ons droogte verskil ook van die buurman oorkant die draad sin – daarom kan ek nie almal se seerkry en swaarkry bewoord nie. Maar ek kan die seëninge wat ons daagliks onvang met julle deel. Dalk gee dit jou hoop en krag om nog net bietjie vas te byt.
3. Ek het baie om te sê. Een blog is te min. Ek kan ‘n boek skryf oor hierdie onderwerp! Maar sal graag net klein grepe uit my gedagtes hier wil deel.
Ons het geleer om fyner te kyk om die Here se hand in alles te sien. Ons word daagliks in oorvloed geseën. Vanoggend kondig die son rooi-oranje die breek van ‘n nuwe dag aan en die voëltjies kwetter uitbundig voor ons kamervenster. Ek kan ‘n koppie boeretroos saam met my man geniet voordat ons albei moedig die nuwe week aanpak. My hart is vol en my menswees loop oor van dankbaarheid vir die liefhê mense in my lewe.
Vanaand as ons weer by die huis kom vat ons hande om die kombuistafel en deel ons die dag se gebeurtenisse. Ons gaan sit op ons stoep en asem sommer net die Boesmanlandse vars lug diep in. Die Here het ons nog ‘n dag gespaar en ons is stil-tevrede.
Ek ontvang ‘n oproep van ‘n weldoener wat 7 jaar gelede die opdrag gekry het dat sy my moet help. Nou 7 jaar later bring die uitweg wat sy bied trane in my oë. My pa bel oor ‘n boorgat wat besig is om op te droog, maar hy kon uiteindelik ‘n seil koop om die dam toe te maak wat drasties verdamping verminder. Ons is kinderlik opgewonde oor al die antwoorde op ons gebede.
Sondag ry ons 60 km grondpad om te kan boekevat saam met vriende, ons Boesmanlandse kerk. Die Here kom vertel dat ons ons siel en liggaam moet laat sterf om ons gees in beheer te plaas. Ons oorlog is nie teen vlees en bloed nie en nederig kom lê ons net weer die droogte by Sy voete.
Ek is vroeër vanjaar genooi na ‘n Boervrou bederfdag in Loeriesfontein. Ek het die voorreg gehad om deel te hê aan die ontwerp van ‘n boekmerkie vir elkeen van hierdie kosbare vroue. Ek deel graag my boekmerkie gebed met julle:
Die gebed van ‘n Boesmanlandse Boervrou
Liewe Heer
U ken my hart, U ken my siel, U ken my menswees beter as wat ek myself ken. U het my hier geplaas in die droeë, dorre Boesmanland, want U het geweet ek is sterk genoeg hiervoor. Help my nou ook om dit te glo Vader.
Laat ek ‘n veilige hawe vir my man en kinders wees, ‘n bron van hoop elke dag opnuut. Laat my knieskottels geseënd wees en ek ‘n tuiste skep met hart en liefhê vir die wat by ons kom rus soek. Laat my knieë die offers wees vir alle swaar en seer en moeilikhede wat oor ons pad kom. Laat my boervrou hande met omgee ander se menswees liefkoos. Laat my siel skyn met U liefde, omgee en genade.
Heer ek dank U vir my hartsmense. Ek dank U vir gesondheid, vir oorvloed en vir U tasbare liefde. Ek dank U vir mildelike somerreëns waarmee U ons stuk aarde gaan seën.
Ek is vandag op my knieë voor U Here. En ek dank U vir die dorings op my pad wat my die sterk vrou gemaak het wat U my bedoel het om te wees.
Amen
Verlede week ontvang ons weer mildelike seën teerpad langs uit die hand van verskeie weldoeners. Tussen al die lekkertes is daar mieliemeel! My storie oor mieliepap is verskeie kere al vertel terwyl ek Paptert en Krummelpap voorberei het. Dus het ek weer ‘n nuwe skepping uitgedink – Mieliepap balle met spek en Parmesaan! Krakerig en goudbruin. Te midde van droogte kreun ons kostafels onder oorvloed!
Pap balle met spek & parmesaan
bestanddele
10 ml Sonneblom Olie
250 g Spek, gesnipper
1 L Beef Aftreksel (1 Aftrekselblokkie met 1 L water)
500 ml Mieliemeel
125 ml Parmesaankaas, gerasper
Sout en vars gemaalde swartpeper
250 ml Koekmeel
3 Eiers, geklits
250 ml Broodkrummels
Olie vir diepbraai
METODE
- Verhit olie in ‘n pot en braai spek tot goudbruin
- Skep spek uit en hou eenkant. Voeg beefaftreksel in dieselfde pot en verhit tot kookpunt
- Verlaag die hitte en voeg dan mieliemeel by
- Roer konstant totdat pap gaar is (Ongeveer 10 tot 15 minute)
- Voeg spek en parmesaankaas by die pap en meng goed deur. Geur met sout en peper
- Verwyder pap van die hitte. Druk vas in ‘n oondpan / glasbak, bedek met glad wrap en verkoel in die yskas
- Terwyl pap verkoel plaas die eiers (geklits), meel en krummels in 3 aparte bakkies / ziplock sakkies
- Na ongeveer 1 uur in die yskas kan pap in balletjies gerol word. Rol die balle eers in die meel, dan in eier en bedek heel laaste met krummels
- Diepbraai in warm olie tot balle goudbruin en krakerig is
- Bedien warm met tuisgemaakte mosterd (Kry heerlike mikrogolf mosterd resep op my instagram)
Notes
- Hierdie balle kan vooraf gemaak en dan in sakkies gevries word. Wanneer jy dit wil voorsit haal jy uit, ontdooi en diepbraai vinnig om warm te bedien!
My gebed is dat jy die seën van die Here in oorvloed sal ervaar. Dat jou knieskottels sal oorloop en dat alle sitplekke aan jou tafel sal vol sit.
Geen droogte is te groot vir Hom nie.
Met liefde uit die Boesmanland xxx