Skilpadjies

Ons het ‘n ryk geskiedenis van afval en afvalligheidjies hier in ons wêreld.  Met bietjie navorsing het ek afgekom op ‘n skrywe van ‘n Vyftiende-eeuse Duitse resep vir Kalfslewer in netvet in Das Buoch von guoter Spise.  Die kalfslewer is fyngemaak, gemeng met spek, korente, eiers en beskuitkrummels en in netvet toegevou in die pan gebak.  Die resep wat egter oorleef het in die Boesmanland is lamslewer (Fyn gemaal of blokkies gesny) is netvet toegedraai en op die kole gebraai.

Van kleintyd af het my pa my altyd genooi om deel te wees van die slagproses op die plaas. Ek was die jongste van 3 sussies en verseker my pa se tomboy! Ek kon vele seuns in my klas op hulle neuse laat kyk as dit by voergee, skaapvang, draadwerk of slag kom. My ma was nooit te opgepluk met my wat na so slag ervaring redelik bebloed by die huis aangekom het nie, maar my pa was trots. En daar is NIKS so lekker soos om my pa trots te maak nie. So het ek dus kleintyd al leer lewer, skaapsterte en afval eet. (Ek is nie te gaande oor skaapkop of afval nie, maar as dit al is op die tafel sal ek verseker ook saam eet!)

Vir ons plaaskinders is Skilpadjies dus nie ‘n vreemdheid nie, dit is ‘n Delikatesse.  Met jou volgende besoek op ‘n skaapplaas is hierdie ‘n moet!

Skilpadjies

Recipe by Marli Visser

BESTANDDELE

  • 1 Skaaplewer

  • 1 Skaap netvet

  • Growwe sout, peper & koljander

METODE

  • Maak jou lewer behoorlik skoon. Laat lê dit in asynwater. Haal die velletjie af en sny die pype uit
  • Week jou netvet in warm water (nie kookwater nie) om te voorkom dat dit kraak as jy daarmee begin werk
  • Sny die die lewer in blokkies van ongeveer 2/3cm en geur met sout, peper & koljander (Lewer kan ook gemaal word en dan gemeng word met geurmiddels)
  • Draai elke stuk lewer in netvet toe en steek vas met tandestokkies
  • Braai op die kole of in ‘n swartpot tot gaar en lekker verbruin

Noudat ons binnekort mag afgradeer na vlak 3 van Nasionale inperkings beteken dit hopenlik dat die braaivleisvure weer hoog sal brand! Indien jy nie die voorreg het van vars lewer en netvet nie, gaan koop gerus by jou plaaslike slaghuis en maak jou eie skilpadjies.

En wanneer jy dit eet dink jy aan die boere in die Boesmanland, maar ook reg oor ons land, wat elke oggend opstaan en nederig sy dagtaak aanpak om voedselsekuriteit vir ons land te verseker. Hulle hou aan al het daar nog ‘n winter en nog ‘n lamseisoen aangebreek sonder dat die reën geval het hier in ons wêreld. Moedhou. Volhou. Terwille van ons land en sy mense.

“Mag dit reën daar waar jou skape wei…”

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply