Skuinskoek

As jy al ooit iets eg aan die Boesmanland wou eet, sal dit ‘n skuinskoek wees. Ek lees vandag dat tradisioneel is hierdie koekies gebak in die voortrekker jare vir padkos op die langpad, want hulle raak nie oud nie en muf ook nie. Hulle word net hard – en is dan nog lekkerder as jy hom in moerkoffie doop!

My pa is ‘n man wat hou van iets te peusel. Vandat ek kan onthou was daar altyd ietsie te ete in sy blou Scania plaasbakkie, in sy lessenaar se regterkantste, boonste laai en ook in sy winkel waar die plaaswerkers hulle proviand kom aanvul het. In die winkel was dit Niekerbols, daai swartes wat verkleur het na alle kleure van die reënboog soos hy kleiner gesuie word. In die lessenaar se laai was dit vrugterolle of swart Wilson toffies (Ek was nie mal oor een van die twee nie!) En in die blou bakkie was dit van daai regte groen chappies met die “Het jy geweet?” feite in die papiertjie en ‘n gedroogde nartjieskil voor op sy dashboard waaraan hy begin kou het as hy moeg raak. En as jy gelukkig was kon jy êrens tussen die sitplekke ‘n ou skuinskoek uitgrawe. As jy hom byt het jou tande merke so wit gesit. Oeg en wat ‘n lekkerte was dit nie! En dink my pa het somtyds vir ons hierdie lekkernye weggesteek net om seker te maak ons mis nie uit op veldtrippies saam met hom nie.

Vandag het ek my knieskottel uitgehaal om bruinlyf skuinskoek te bak, met bietjie vet ingeknie net om dit ekstra lekker te maak! Ek het al telling verloor met waar presies ons staan in Lockdown, maar ek is op die punt om alle goeie voornemens oorboord te gooi en my bure oor te nooi vir ‘n koffie en ‘n warm skuinskoek.

Skuinskoek

Recipe by Marli Visser

BESTANDDELE

  • 2.5 kg Koekmeel

  • 10 ml Sout

  • 2 Pakkies Droë Kitsgis

  • 1L Louwarm Water

  • 250 g Botter of Sagte Vet

  • 15 ml Anys

  • 2.5 ml Fyn Neutmuskaat

  • 750 ml Suiker

metode

  • Meng al jou droë bestanddele goed. (Koekmeel, sout, kitsgis, anys, neutmuskaat, suiker)
  • Voeg jou water bietjie vir bietjie by en meng tot ‘n lekker deeg vorm.
  • Knie die vet of botter bietjie vir bietjie by totdat alles goed deurgeknie is. Knie ongeveer 15 minute.
  • Maak die deeg warm toe met ‘n ge-oliede plastieksak en ‘n kombers en laat op ‘n lekker warm plek rys tot dubbel in volume.
  • Verhit ‘n pot met helfte olie en helfte sagtevet (As jy daai voorreg het!)
  • Knie jou deeg goed af. Knyp ‘n bol deeg af, rol dit in ‘n lang wors, druk dit plat tot dikte van 1 cm en sny dan skuins stroke.
  • Gooi die koekies in die olie en braai totdat hulle lekker bruinlyf kry. Roer sommer terwyl hul braai om seker te maak hulle verbruin egalig.

Notas

  • NS – Onthou skuinskoek vries baie lekker, en proe soos varsgebak na ‘n paar oomblikke in die mikrogolf

” Wie het nou kon dink dat ‘n ou klein, soet, anysgegeurde koekie- ‘n kruis tussen ‘n oliebol en ‘n mosbolletjie – ‘n nuwe wêreld vir my sou oopmaak?” – Gesê deur Tannie Theresa de Vries, Brandvlei

Mag hierdie Boesmanlandse bederf vir jou ook nuwe wêrelde oopmaak en moed gee vir die laaste week van ingeperk wees!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

2 Comments

    • More Jaco

      Yes die Boesmanland is eintlik so wyd soos die Here se genade en almal se opinies verskil oor waar sy eintlike grense nou lê. Maar as jy op ‘n kaart kyk sal ek sê is die Boesmanland hoofsaaklik die groot oop stuk niks tussen Kakamas, Kenhardt, Brandvlei, Loeriesfontein en Pofadder. Ons stuk hemel op aarde!

Leave a Reply