Vandag se Nostalgie resep is bietjie anders en val dalk nou nie in almal se smaak nie. Maar as jy in onse wêreld grootgeraak het, het jy al van kleintyd af geleer “Ons gooi niks weg nie.” Selfs met slagdag in die Boesmanland word elke krieseltjie van die skaap bewerk. Ek ken van vaalafval en kerrie afval, ek ken van Pofaddertjies en Skilpadjies – ek weet wat werklik lekker is in hierdie lewe!
Toe ek jonk was, was ek nie te gaande oor die smaak van hart, lewer en niertjies nie. In my universiteitsdae het ek egter die huis SO verlang dat ek lief geraak het vir alles eg aan ons omgewing – selfs die skaap se harslag. Jy leer hom vinnig bewerk en gaarmaak na jou smaak. Ek het hierdie week nog die tannie agter die bult ‘n boodskap gestuur om te vra: ” Wat is die beste manier om ‘n netjiese skilpadjie te maak?” Haar antwoord? “As hy gaar is eet almal so lekker dat niemand eers sien hoe hy lyk nie!”
My man het gisteraand vir ons die harslag skoongemaak en ‘n feesmaal voorberei: Niertjies, lewer en skaaphart in suursous op boerbrood. En terwyl die res van die wêreld mal raak oor die eet van rou eiers, gaan ons maar rustig voort en hou ons by dit wat ons die beste ken – Regte Boesmanlandse skaapvleis lekkertes. Ek deel graag sy resep met julle.
bestanddele
1 Groot ui, ringe gesny
2 Skaap Niertjies in blokkies gesny
1 Skaap Lewer in blokkies gesny
1 Skaap hart in blokkies gesny
Skaap vetderm opgesny in stukkies (Opsioneel, ek is nie mal hieroor nie!)
5 ml Sout
7.5 ml Peper
10 ml Bruinsuiker
30 ml Asyn
15 ml Worcester Sous
metode
- Maak eers die harslag mooi skoon. Laat lê die harslag vir ten minste 1 uur voordat jy begin in ‘n mengsel van asyn en water
- Braai die ui lekker in olie. Net voordat die ui heel gekaramaliseer is gooi jy die res van die harslag by
- Braai lekker totdat harslag geseël is en ui mooi verbruin het
- Gooi sout, peper en bruinsuiker by. Braai als effe saam
- Voeg nou die asyn en worcestersous by. Draai jou plaat baie laag en laat als prut vir ongeveer 10 – 15 minute (Hou die deksel toe dat jou pot nie vog verloor nie) Die harslag kook nog van sy eie vog ook uit, as die pot egter effe droog lyk gooi nog so klein bietjie water by soos nodig
Bedien warm. Skep dit op ‘n skaapwagtersny boerbrood en geniet!
Met liefde uit die Boesmanland xxx