Slinger-om-die-smoel

Vanaand was my Ouma Ans in my plaaskombuis… Niemand kon melkkos maak soos sy nie – sy was ook al een wat nie vir ons Spaghetti, Sago of melkkos frummels probeer opdis het as die ware jakob nie. Nie dat ek iets het teen laasgenoemde vorms van melkkos nie, dit is immers waarmee ek grootgeword het (Iets wat elke koshuiskind in gemeen het! Met die eerste hap van sago melkkos is ek weer in huis Unitas se eetsaal.)

Terug by my ouma Ans. Sy was ‘n stoere boervrou wat 6 kinders grootgemaak het op ‘n plaas 140 km van die naaste dorp. Dit is nou in die dae van broodbak in ‘n buite-oond, klere was in ‘n petrol wasmasjien en kooigoed maak van meelslope. Sy was ‘n volbloed Tortois Nel (hulle was die moeilike Nelle!) en ‘n regte vuurvegter tot die einde. Ek dink hierdie is iets wat redelik dik in ons almal se are loop, sy’t altyd vir my gesê: “Ou Marli, veg hulle tot in die parlement soos jou oupa sou doen!”

Sy het gereeld op Makkiesplaas kom kuier toe ek nog ‘n klein dogtertjie was. Dan het ons vêr ente in die veld gaan stap opsoek na blousporrie en rabas vir haar handgemaakte verjaarsdagkaartjies met gedroogde blomme. As my dogtertjie bene nie meer kon nie het sy ‘n fyn sakdoekie met pepperminte uit haar sak gehaal . En as ons by die huis kom was daar soet-soet tee met Eat-Some-More koekies. Ouma Ans het geweet hoe om ‘n dogtertjie hart gelukkig te hou!

Ouma het altyd haar hande in die lig gegooi en “Thank you my Lord” gesê as sy bly was oor iets. Sy’t talle nagte wakker gelê om vir haar kinders te bid. Sy’t altyd tyd gehad vir haar kleinkinders en agterkleinkinders. In 2018 het die wêreld werklik ‘n voorvatter vrou verloor. Vanaand lê al die onthou na ouma sommer vlak, en al is my snysels nie so dun en perfek soos ouma sin nie, kan ek ouma proe en ruik en voel in my kombuis.

Slinger-om-die-smoel

Recipe by Marli Visser

Bestanddele

  • 3 Eiers

  • 375 ml Koekmeel

  • 5 ml Sout

  • Net genoeg water om deeg mee aan te maak

  • 1.25 L Melk

  • 2 Stukke Pypkaneel

metode

  • Klits die eiers
  • Sif die meelblom en sout by en meng goed
  • Voeg net genoeg water by om ‘n stywe deeg te vorm en knie dan die deeg tot hy lekker elasties is
  • Rol die deeg dun uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en sny in ‘n reghoekige vorm
  • Strooi die uitgerolde deeg met bietjie meelblom
  • Rol die deeg op en sny in baie dun wielietjies. (Jou mes moet skerp wees om te verhoed dat dit die deeg plat druk)
  • Rol al die wielietjies af en strooi weer bietjie meel oor die snysels
  • Verhit die melk en 2 stukke pypkaneel tot kookpunt
  • Voeg die snysels geleidelik baie en roer liggies met ‘n vurk dat die snysels nie in mekaar vassit nie
  • Laat stadig saamkook vir ongeveer ‘n half uur
  • Skep in lekker groot sop borde en bedien met baie kaneelsuiker!

Met my ouma se 80ste verjaarsdag het elke kleinkind ‘n brooddoek gekry met die volgende dagboek aantekening van 23 Mei 2002 (In haar handskrif):

“Rus my toe Here met U Gees dat ek onder die moeilikste omstandighede kan staan en U wil kan doen!”

My wens vir elkeen van ons in hierdie besonderse moeilike tyd wat ons nou deur maak.

Met liefde uit ‘n koue Boesmanland xxx

Leave a Reply