Stadig

“To live simply requires a more conscious, more considered state of mind. One that is calm and unhurried and undistracted” A year of living simple, Kate Humble

Hoe skryf ‘n mens uit oorvol gedagtes? Hoe kry jy dit reg om iets te deel waarvan jou hart so vol is – maar jou kop is te vol met ander dinge? Ek dreig nou al vir weke om agter my rekenaar in te skuif en net weer te skryf, maar dis asof ek net nie my wese op ‘n “stil genoeg” plek kry om dit doeltreffend te doen nie.

Hierdie week kuier ek bietjie op my grootword plaas en gister laatmiddag kry ek die geleentheid om ‘n draai te gaan stap. En dis asof die wind deur die doringbome alles in my stilmaak. Ek sien die vrolike geel bossie in die grondpad – en dit laat dink my aan my vrolike, krulkop meisiekind. Ek sien die son goud ondergaan oor die vlaktes en meteens weet ek: Dis tyd.

Boesmanland Langtafel was vir my ‘n wonderlike hartsprojek sedert ek 2019 terug Boesmanland toe getrek het. Dit het gegroei van ‘n eenvoudige aanlyn “kosblog” tot ‘n veel groter aanlyn winkel en blog (Of groter as wat my oorspronklike plan was!) Dit het meer en meer van my tyd opgeneem en ook stadig maar seker het die hele webtuiste ‘n ander rigting begin inslaan. Partydae was ek moedeloos en totaal oorweldig met dit wat ek self geskep het.

Maar ‘n nuwe seisoen het vir my, ons gesin en hierdie platvorm aangebreek en ek is so opgewonde om dit met elkeen wat hier lees te deel! Ons gesin het gegroei en so ook my menswees as mamma en huisvrou. Ek wil stiller en stadiger leef. Meer volhoubaar (Fisies maar ook emosioneel!) In vandag se gejaagde wereld kos dit werklik ‘n “kopskuif” om dinge stadiger en eenvoudiger te doen. Maar ek wil dit doen vir die welstand en toekoms van my gesin.

En dit is my nuwe doel met hierdie aanlyn platvorm – ek wil ons dag tot dag deel. Die resepte, die projekte, die harde lesse wat ons leer as jong gesinnetjie hier in die Boesmanland! Of die naam dieselfde gaan bly weet ek nog nie – die Boesmanland is tog deel van my DNA. Maar ek hoop van harte dat jy as leser sal bly – dat jy saam met my sal groei in die nuwe rol as ma en boervrou. Dat jy saam met my sal leer oor alles van kosmaak tot tuinmaak tot kinders grootmaak (of dalk jou kennis met my sal deel as jy alreeds die pad gestap het!). Dat ons saam sal kan leer oor hoe om die lewe stadiger en eenvoudiger aan te pak. Dat jy ook saam met my sal stilword wanneer die tyd daarvoor aanbreek. Dat ons steeds saam sal kan aansit aan tafel en brood breek en sommer net mekaar in die oe kyk.

Ek droom groot en lieflike drome vir die toekoms. Drome vir ons gesin, drome vir ons leefstyl. En drome vir hierdie platvorm. Dankie dat julle deel van hierdie droom is!

Ons gesels binnekort weer.

Met liefde vanaf Makkiesplaas xxx