Die tekens van die winter raak al hoe meer sigbaar hier op die plaas. Ons wingerd is goud verkleur en die son vat elke oggend bietjie langer om sy kop uit te steek agter die berge. Hulle voorspel vir komende week ons heel eerste ryp.
Ek en my skoonpa gesels nourie dag oor die geure en kosse wat jy met verskillende seisoene assosieer. Die somer in die Noord-Kaap is druiwe en suikersoet waatlemoen. Herfs is eiervrug in Aubergine Parmigiano & Ratatouili. Dis dieprooi granate en kweper jellie op vars gebakte brood. Dis medjool dadels van êrens langs die Oranje Rivier. Winter is sitrus in al sy glorie. Dit is sterk spesery geure en stadige bredies en soppe en dis kerries met koriander blare as afronding. Die lente is vars en vrolik. Dis vars pestos uit jou eie tuin en kappertjie blomme in jou slaai. En soos my skoonpa sê: ” As jy enige van hierdie in ‘n ander seisoen vir my opdis, smaak dit nie dieselfde nie. Sekere geure hoort net by sekere seisoene”
Ons lemoenbome dra sommer mooi die jaar. En ek word elke week bederf met die lekkerste suurlemoene van ons buurplaas. Die winter is verseker my gunsteling seisoen, en so ook al die geure wat daarmee gepaard gaan. Ek het hierdie week besluit om met die buurplaas se suurlemoene winter in ‘n tert vas te vang – ‘n Suurlemoen Meringue Tert. Hy smaak verseker net anderster lekker as jy die voorreg van vars suurlemoene het.
Suurlemoen Meringue Tert
bestanddele
- Deeg
375 ml Koekmeel
125 ml Versiersuiker
2 ml Sout
125 ml Bak Margarien
100ml Room
1 Eiergeel
15 ml Suurlemoensap
- Vulsel
2 x 385 g kondensmelk
2 Eiergele
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
200 ml Suurlemoensap
- Meringue
250 gr Eierwitte (Ongeveer 5 groot eiers se witte)
Knippie Sout
250 gr Strooisuiker, gesif
Metode
- Deeg
- Sif koekmeel, versiersuiker en sout saam
- Vryf die botter met jou vingerpunte by bogenoemde mengsel tot dit ‘n lekker krummelrige tekstuur het
- Klits room, eiergeel en suurlemoensap saam
- Maak ‘n holte in die middel van die meelmengsel en voeg room mengsel by
- Meng goed totdat ‘n lekker deeg vorm. Maak dit toe met kleefplastiek en verkoel in die yskas vir sowat 30 minute
- Voorverhit jou oond tot 180°C en spuit jou tertbak (20cm in deursnee)
- Deel jou deeg in 2 gelyke dele. Vries die een helfde tot nodig
- Rol die ander helfde uit op ‘n meel bestrooide oppervlak en voer jou tertbak daarmee uit. Druk met ‘n vurk se punt gaatjies in die tertkors. Plaas ‘n stuk bakpapier bo-op die deeg en vul met droeë bone of plaas gewiggies op
- Bak blind vir 15 minute. Verwyder daarna die bakpapier en bone en bak vir nog 5 minute en laat dan die kors afkoel
- Vulsel
- Verhit oond weer tot 180°C
- Roer kondensmelk en eiergele saam in ‘n mengbak (Moenie klits nie)
- Vou suurlemoenskil en sap in
- Laat staan tot mengsel verdik en kors lekker afgekoel
- Gooi mengsel in afgekoelde kors en bak vir 15 minute of tot dit effens verbruin
- Meringue
- Klits eierwitte en sout styf
- Wanneer eierwitte by stywe punt stadium is voeg die strooisuiker geleidelik by terwyl jy klits
- Hou aan klits tot eierwitte en suiker glansend is (lyk amper soos ‘n blink marshmallow mengsel) en sagte punte vorm wanneer jy dit lig
- Skep bo op die tert vulsel en bak vir 15 minute by 180°C. Verlaag dan die temperatuur na 110°C en bak vir nog 45 minute
- Laat afkoel in die oond. (Wanneer meringue te vinnig uit die oond gehaal word sal dit krake vorm – soos op die foto!)
Notes
- When life gives you lemons, make a lemon meringue!
Daar lê vir ons ‘n koue week voor hier in Suid-Afrika. Die perfekte weer vir tuisgebakte beskuit saam met jou moerkoffie soggens. Of warm pap waarvan die geure die hele huis vul. Probeer gerus ‘n lekker Richmond Rib vir middagete saam met varsgebakte boerbrood! En bak dan ‘n suurlemoen meringue vir terwyl jy in die namiddag son sit en bak en die wonders van die winter geniet.
Ons verwelkom die vinnige aanbreek van die nuwe seisoen en ek sien uit daarna om hierdie week bietjie meer tyd in my kombuis te spandeer….en ook binnekort dan bietjie meer met julle te deel hier uit my plaaskombuis!
Met liefde uit die Boesmanland xxx