Taai Hoendervlerkies

Ek en my man het in 2015 die voorreg gehad om Thailand toe te gaan. My pa was baie op sy senuwees oor sy avontuurlustige jongste. “Marli-bok, pa was nog nie eers op Pella nie. Hoekom toer julle nie maar net in ons eie omgewing nie?” Ek het op die ou einde teen my pa en sussies se wil op die groot vliegtuig geklim die vreemde in!

Vir ‘n Boesmanlander was die strate van Phuket ‘n reuse ontnugtering, ‘n stad wat nooit slaap nie. Die mense is anders, die manier van doen is anders en die kos is BAIE anders.

Ons het egter totaal verlief geraak op die tradisionele Thaise geregte en het tot ‘n kookklas by Pums cooking school in Phi Phi Island bygewoon. Daar het ek vir die heel eerste keer in my lewe met vissous, oestersous, tapioca meel en Chainese Kale te doen gekry. Die Phad Thai en Gai Phad Med Mamuang was twee van ons gunstelinge!

Vanoggend verlang ek toe sommer terug na my werdervaringe in die vreemde. Ek kry al my Thaise bestanddele (minder volksvreemd as by Pums Cooking School) uit my kas en maak lekker taai hoender vlerkies met roerbraai (alle groentes uit my plaastuin). Ons het hierdie vlerkies ook al by skoonma geëet vir ‘n familie ete, hy proe egter nooit dieselfde nie omdat ons die resepte aanpas volgens wat in ons kaste en tuin beskikbaar is. In die Boesmanland kan jy nie kieskeurig wees nie!

Taai Hoender Vlerkies

Recipe by Marli Visser
Porsies

3

Porsies

Hierdie is ‘n heerlike braaipan resep, vinnig en baie maklik!

Bestanddele

  • 10 Hoendervlerkies

  • 15 ml Olyfolie

  • 30 ml Heuning

  • 60 ml Bruinsuiker

  • 75 ml Soja Sous

  • 15 ml Sweet Chillie sous

  • 2cm Gemmer, geskil en gekneus

  • 1 Groot Knoffelhuise, geskil en gekneus

  • Sout & Peper na smaak

METODE

  • Sout en peper jou hoendervlerkies na smaak en maak dan gaar in die braaipan. Ongeveer so 10 minute of tot vlerkies net deurgaar is.
  • Meng die res van die bestanddele en gooi oor die vlerkies. Maak seker dat alle vlerkies lekker bedek is
  • Sit jou braaipan op sy heel laagste en laat prut omtrent vir so 15 tot 20 minute of tot sous lekker taai begin raak. Draai die vlerkies om na ongeveer 10 minute om egalige taaiheid te verseker.
  • Bedien met ‘n lekker roerbraai!

Dis somtyds nodig vir selfs ons plattelanders om ons vlerke te sprei en bietjie ander kulture te ervaar. Probeer als en behou die goeie, sou my pa nou weer gesê het!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Reply