Toe Sondae nog Sondae was

Ek verlang na die dae toe Sondae nog Sondae was.  Toe winkels se deure nog op Sondae gesluit was – nie ‘n apteek, ‘n kafee of ‘n restaurant was oop nie.  Ons was genoodsaak om op Sondae stadiger te leef en retrospeksie te doen oor die week wat verby is.  Ons kon na kerk hande vat om die kombuistafel en smul aan ‘n koningsmaal – ywerig voorberei alreeds van vroegdagmôre af. Die tafel keurig gedek met net die beste en blinkste eetgerei en breekware.

Op Makkiesplaas het Sondae ook anders gelyk as nou.  Ons naaste kerk was 140 km grondpad.  Ons het dus grootgeraak met RSG preke – die hele gesin is vroeg al uit die vere om reg te maak vir kerk.  Wanneer die kenwysie van RSG se oggend erediens gespeel het was ons almal slaggereed – hare gekam, tande geborsel en magies vol.  My pa se sagte bruin leunstoel staan vandag nog in die hoek van die TV kamer, hy het ontspanne teruggesit en aandagtig geluister terwyl ek met sy hare te speel.  ‘n Regte dogtertjie pa – vir ‘n uur lank is sy hare gevleg, ge”tease”, in krullers gedraai en selfs in fraaie boksterte opgetert!

Na kerk was dit tyd vir Sondagskool – ons 3 sussies verskil wyd in ouderdom (verskillende kategese klasse) en dus moes my pa ons in aparte lokale laat sit voordat hy van ‘n kant af begin lesgee het.  Een in die kantoor, een in die ouers se slaapkamer en een in die televisiekamer.  Teen die tyd was ons al moeg vir stilsit en reg vir ‘n swemdam lafenis voordat ons smul aan my ma se Sondagkos.

Laat Sondagnamiddag het daar ‘n stilte oor die werf neergedaal wanneer ons weer moes sakke pak vir koshuis toe gaan.  Skoolrokke is teen die kas uitgehang, skoolskoene is gepolish en kostrommels is met sorg gepak na elke sussie se smaak.  Ons het vroegaand al aandkos gekry en is dan saam met die hoenders bedtoe met die gedagte dat ons die volgende oggend donkermôre die langpad dorp toe moes aandurf.  Voor slaaptyd is ons sakke en skooltasse alreeds by die voordeur gesit.

Maak nie saak hoe oud ek is nie – Sondaemiddae 5 uur tref die “koshuis-gevoel” my – iets wat net koshuiskinders sal verstaan! 

Vandag poog ek om Sondae in ons huis weer stadig te maak.  Ons begin ons dag sonder alarms, probeer luilekker in die son sit sonder om aan enige iets te dink.  Sommer net so in stilte met ‘n koppie tee en onthou wat my menswees deurspoel.

En vanmiddag as die son begin watertrek ry ons oor na die buurplaas om te gaan afkoel in die gatdam – dalk, net dalk is die modderige seënwater waarmee die Here ons hierdie afgelope week bederf het genoeg om my te laat vergeet van die “koshuis-gevoel”! En indien dit nie werk nie, druk ons ‘n stadig gebakte Sondag Skaapboud in die oond en bedien dit saam met bros aartappels en pampoenkoekies.

Sondag Skaapboud

Recipe by Marli Visser

5

Porsies

bestanddele

  • 1 Boesmanland Skaapboud/lamsboud van ongeveer 3 kg

  • 3 Knoffelhuisies, in skyfies gesny

  • 2 Uie, in kwarte gesny

  • 3 Roosmaryn takke, blare gepluk

  • 45 ml Growwe Sout

  • 45 ml Koljander

  • 20 ml Varsgemaalde Swartpeper

  • 375 ml Water

metode

  • Sny die boud kepe in aan die vetkant en druk knoffelskyfies oral in (Versprei egalig oor die hele boud)  
  • Maak die roosmarynblare, growwe sout, koljander en swartpepper saam fyn in ‘n vysel
  • Vryf die boud lekker in met olie / plaasbotter en dan met bogenoemde spesery mengsel
  • Plaas die boud in ‘n diep oondskottel en voeg water en uie by
  • Bak in die oond by 180°C vir ongeveer 2.5 ure met die deksel op.  Verwyder dan die deksel en bak totdat die boud lekker goudbruin is
  • Bedien met brosgebraaide aartappels en pampoenkoekies

Notes

  • Vir brosgebraaide aartappels – kook aartappels tot amper gaar in soutwater.  Dreineer en gooi aartappels in ‘n oondbak.  Skep van jou boud se vet af, gooi oor die aartappels en meng tot alle aartappels lekker bedek is met vet.  Bak in ‘n warm oond van 200°C tot aartappels goudbruin is.  Roer deur, skep weer vet oor en bak – herhaal totdat alle aartappels egalig verbruin en krakerig is.

Mag 2021 die jaar wees wat jou Sondae ook weer ‘n rusdag word. Skakel af, doen niks, ontspan – dis waarom ons Liewe Heer die 7de dag geskape het.

Ek gaan voortaan op Sondae my onthou stories en resepte deel – Kostalgie Sondae om my Boesmanlandse Langtafel. Ek nooi jou om ‘n kondensmelk koffie te maak en Sondae saam te kom stoepsit en onthou.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

1 Comment

  1. Hi Marli Ek het opgegroei op Makkiesplaas. Ja hierdie skrywe neem my terug na 1957 toe ek in Sub A was. Al verskil was ek het in n ander rigting gery skooltoe Na Brandvlei omtrent dieselfde
    afstand . Grondpad. Baie jare het verbygegaan en ek kon nooit dink dat ek in die verre NZ so bederf kan wees om van mense en n plek soveel te hoor wat so na aan my hart le nie. Wanneer ek diep dink loop ek op Makkiesplaas rond. Ek het ook nie regtig jou geliefde moeder goed geken en dis n plesier om van haar dikwels te lees. Lieflike fotos te kyk en spesiale resepte te lees

Leave a Reply