Tuisgemaakte Pasta

My ma was baie lief vir pasta. In haar Huiskos Resepteboek het sy ‘n Rykmanspasta met sampioene en spek in. Spek was nie iets waarmee ons groot geraak het nie – dit was ‘n luuksheid. Feta was “kaas wat in water gedryf het” en iets wat ons verseker ook nie geken het nie! En al room wat ek geken het was die room wat ons elke oggend van die koei se melk afgeskep het wanneer my pa met die melkemmer spat-spat huistoe kom stap het.

Die afgelope naweek het ons weer op Makkiesplaas gaan kuier. My grootwordplaas. My heimat. Elke skadu, elke reuk, elke klank is deursypel met net die mooiste herinneringe. Ek sit op die stoep en slaan hoendervleis uit wanneer ek die windpomp by die ou swemdam hoor kraak. Die krip oppad begrafplaas toe se water ruik nog net dieselfde. Die koolstoof staan en wag geduldig vir die winter in die agterkamer en die spens rakke is steeds vol gebottel. Die reuk van moerkoffie maak my wakker voor dagbreek en die die houtvloer kraak op presies dieselfde plekke as 10 jaar gelede.

En die een gedagte wat onophoudelik by my opkom is dat ek tog net nooit wil vergeet waar ek vandaan kom nie. Dat my grootwordplek altyd saam met my sal gaan waarookal hierdie lewe my vat.

Terug by my ma se gunsteling: Pasta. Ek het nou tuisgemaakte pasta leer maak. So eenvoudig. So lekker. En jy bedien dit met watookal in jou kombuis en tuin beskikbaar is! En wanneer jy dit eet dan onthou jy hoe eenvoudig dit eens was.

Blomkool, spek en amandel pasta

Recipe by Marli Visser

BEstanddele

  • Pasta
  • 2 Eiers

  • 2 Eiergele

  • 500 ml Koekmeel

  • Bietjie water indien nodig

  • Sous
  • 400 ml Vars Room

  • 1 Knoffelhuisie, gekneus

  • Halwe Blomkool, klein

  • 100 g Spek, fyngesny

  • Gekapte Amandels vir opdiening

  • Sout & Peper na smaak

  • 10 ml olie

Metode

  • Pasta
  • Gooi meel op jou werksoppervlakte in ‘n hopie en maak ‘n lekker holte in die middel.
  • Gooi 2 eiers asook 2 ekstra eiergele in die holte en begin om stadig met ‘n vurk te klits om meel in eier in te werk. (Doen hierdie stadig om te verseker dat die eier lekker bind met die meel)
  • Wanneer eier ingewerk is kan jy deeg met jou hande begin saamwerk en knie tot ‘n bal deeg vorm. Hierdie is ‘n tydsame proses en jy moed geduld hê! Indien jy sukkel om deeg te vorm voeg bietjie water by om dit makliker te laat bind.
  • Maak deeg toe met gladwrap en laat rus by kamertemperatuur vir ten minste 30 minute (of langer!)
  • Verdeel deeg in 4 gelyke dele. Rol uit. Werk deur jou pasta masjien tot op die dunste stelling. Sny in repe met mes of masjien.
  • Verhit ‘n groot pot water met sout (moet soos seewater proe) tot kookpunt.
  • Kook pasta in klein hoeveelhede op ‘n slag tot dit al dente is (Sag maar nie pap!) Pasta sal bo begin dryf wanneer gereed. Dreineer.
  • Sous
  • Sny blomkool in dun skyfies en pak in een laag in ‘n lekker groot oondpan. Sprinkel met olyfolie en rooster in die oond / airfryer tot mooi goud bruin.
  • Braai bacon tot lekker bros, verwyder en hou eenkant.
  • Rooster amandel sprinkels om effe gerookte geur te gee.
  • In ‘n swaarboompot verhit 10 ml olie en braai knoffel tot geurig. Voeg room by en verhit.
  • Voeg pasta by room en verhit als lekker saam. Verwyder van die hitte en voeg geroosterde blomkool by.
  • Skep in jou mooiste pastabakke (myne is van Mervyn Gersh – sit dit gerus op jou Kersfees lysie!) Sprinkel brosgebraaide spek en amandels bo-oor en bedien saam met ‘n lekker glas wyn.

Recipe Video

Mag jy altyd onthou waarvandaan jy kom. Mag jou grootwordjare se mooi weer afspeel in jou kop soos jou voete die bekende grond betree. Mag die herinneringe jou tuis laat voel.

Mag jou onthou altyd mooi wees.

Met liefde uit ‘n lekker nat Boesmanland xxx

1 Comment

  1. Hi Marli
    Nie vir skoonsus geken nie
    So lekker om haar te leer ken op al hierdie gesprekke
    Ek raak letterlik gehiptonise met woorde soos koolstoof en windpomp Ek kan myself vir n paar dae nie kry nie Love it Anna pop

Leave a Reply