Valentynsdag Veldfees

So cliché soos dit mag wees kan ek nie help om opgewonde te raak soos ons 14 Februarie 2022 nader nie! Ek was nog nooit groot op “valentynsdag” nie – die kommersiële aspek aan hierdie dag staan my glad nie aan nie.

Ek voel egter om die liefde te vier is onvermydelik – of jy dit nou eenkeer ‘n jaar (valentynsdag? of enige ander dag!) doen en of jy dit nou elke dag doen! My pad in die lewe het my net geleer om die mense naaste aan jou konstant te herinner daaraan dat hulle vir jou kosbaar is.

Daarom hou ons ‘n anderster Veldfees om sommer net omgee, saamwees en die liefde te vier!

Op die spyskaart:

  • Voorgereg Happies: Caprese slaai op ‘n stokkie, biltong truffels, skuinskoek malba met ingelegde makataan stukke
  • Tuisgebakte Mosbrood met vars plaasbotter en vyekonfyt
  • Stadig gebakte skaapnek met soetmosterd

Biltong Truffels

  • 100g soutbeskuitjies (Bacon Kips/Salticrax)
  • 1 houertjie roomkaas (250g)
  • 125ml fyn biltong, met 200ml ekstra vir rol
  • Mespunt Dijon-mosterd
  • 10ml Mayonaise
  1. Maak soutbeskuitjies goed fyn met ‘n voedselverwerker of gooi in ‘n sak en rol met ‘n koekroller tot fyn.
  2. Meng fyn soutbeskuitjies, roomkaas, 125ml fyn biltong, mosterd en mayonaise goed.
  3. Maak hapgrootte balletjies en rol in 200ml ekstra fynbiltong.
  4. Plaas in die yskas vir ongeveer 30 minute voordat jy bedien!

Tuisgemaakte Soetmosterd

  • 6 eiers
  • 1¼ k suiker
  • 250ml witasyn
  • 60 ml droeё mosterdpoeier
  • 250g margarien
  • Knippie sout
  1. Maak mosterdpoeier aan met bietjie van die asyn.
  2. Klits eiers. Voeg mosterd mengsel, res van die asyn, suiker en knippie sout by en klits als baie goed.
  3. Mikrogolf op hoog totdat mengsel kook.
  4. Verwyder uit die mikrogolf, klits weer alles lekker.
  5. Sny margarien in mosterd in, roer deur en mikrogolf weer totdat alles kook.
  6. Verwyder uit die mikrogolf, klits vir ‘n laaste keer goed en bottel warm.
  7. Laat afkoel in die yskas totdat jy wil bedien – mosterd sal dik raak sodra dit begin afkoel.
Valentynsdag Veldfees terwyl daar sagte druppels val

Hierdie valentynsdag is die ideale geleentheid om jou mooiste borde en eetgerei af te stof. Dek ‘n lekker langtafel en nooi jou hartsmense om saam met jou te kom brood breek! Mens is NOOIT spyt oor kosbare herinneringe wat geskep is nie….

Met liefde uit die Boesmanland xxx

1 Comment

  1. Hi Marli
    Heerlik om hierdie te lees
    Soos ons hier in NZ se Been there done that
    Nou is ons egter by I quit sugar Wat n uiterse van jonk fees na ouer wyser en gryser Liefde Oom Willie en Tannie Anna pop

Leave a Reply