Dit is vandag die 12de een. 7 November 2008 voel skielik weer soos gister en realiteit kom kry lê-plek in my binneste. Maar vanoggend is my hart en gemoed sommer ook vol oor hierdie spesiale dag waarop ons my ma se menswees, haar hart, haar gasvryheid en elke stukkie mooi-onthou kan afstof en weer herleef. En die onthou deurspoel skielik my menswees en gedagtes!
Ek kon sien hoe my ma met kos mense bymekaar bring. Elke persoon wat al die voorreg gehad het om vir Annamarie Nel te ontmoet, of om by haar kombuistafel aan te sit, sal hiervan kan getuig. Daar was nooit enige fênsie kos nie, maar als is met die grootste liefde en sorg voorberei. My ma het neergeskryf wie van wat hou (nie net ons kinders nie, maar ook ons bure en vriende se gunstelinge is vandag nog op die agterblaaie van haar dagboeke) en dan het sy sorgvuldig spyskaart beplanning gedoen voor elke kuier en spesiale geleentheid.
So nou is dit kos wat help troos as die verlange te veel raak. Met elke moedersdag, verjaarsdag, herdenking of enige ander spesiale geleentheid word daar iets geëet waarvan my ma gehou het, of iets wat sy gereeld voorgesit het. Dis ook my hele hart agter hierdie blog. Om mense in verre lande te troos as hul verlang na wintervakansies of hul ma se kos te veel raak. Ek is hier om saam te onthou en jou te herinner “Dis ok, daar’s baie van ons wat saamverlang en saam onthou!”
Die kosbaarste resepteboek in my kombuis is die “Huiskos” boekie wat my ma spesiaal vir ons 3 sussies saamgestel het. (Foto soos bo) Haar nalatenskap en onthou is in die geure, die huiskos op my gasstoof en die gesels en kuier om ons kombuistafels. Hierdie kosbare boekie het my ma by Joncoll Kakamas afgegee om gedruk te word die dag van die ongeluk…sy kon nooit self sien hoeveel vreugde die resepte en herinneringe verskaf nie. Ek deel graag met julle die voorwoord.
Kort na my ma weg is het my sussie die opmerking gemaak dat sy ‘n boek wil skryf met die title “Ons ma is dood”. Vandag, na twaalf jaar, wil ek ‘n boek skryf met die title “My ma leef voort” Sy leef voort in ons 3 sussies se huise, sy leef voort om die kombuistafels van vele Boesmanlanders en sy leef voort in die harte van al haar liefhê mense. My ma is gebore en getoë in die Oos-Kaap en was ‘n “Inkomer” in die Boesmanland (‘n naam wat gegee word as jy nie hier in ons wêreld gebore is en grootgeword het nie) , maar my ma is Huistoe as ‘n murg en been Boesmanlander! Sy kon inlê, boerbrood bak, hanslammers grootmaak, sandsakke gooi as die reën kom en op haar knieë bly as dit droog is.
Dankie dat ons ma vandag kan vier. Ma was ‘n sterk vrou, met die mooiste omgee hart. Ma het geken van vrou-wees, ma-wees en vriendin-wees! Ma het geken van kosmaak. Ma was ‘n voorvatter vrou en ons 3 sussies kan net wens om die helfde van die vrou te wees wat ma was. Ons verlang, ons sal na 100 jaar steeds verlang!
Met liefde xxx
My ma het van ‘n jongs af al ons touwys gemaak in die kombuis – daarvan getuig die foto’s hieronder! Dis verskeie briefies wat sy in my Laerskooldae aan my geskryf het.
Liewe Marli. Ek tel nou “toevallig” die Landbouweekblad op en soek die resepte blad (het maande laas deur d landboutydskrif geblaai) en hier kom ek op die artikel oor jou af!!! Dis soo inspirerend om te lees hoe jy die lewe in die Boesmanland vier! Jou ma was n wonderlike vrou! Hoe mooi dat jy haar nagedagtenis sooo eer! En ek is baie lief vir jou pa! (Hy was een vd gunsteling neefs😀) Ek onthou ook die lekkerste kuiers in ouma Lettie Makkie se huis en die spookstories wat daar in die ou sitkamer vertel is en jou pa wat altyd die kostelikste stories van oom Tienas kon vertel! Ons het aande om gelag! Junie vakansie kuier op Makkiesplaas was altyd vir my as kind n hoogtepunt! Jou ouma Ans kon die lekkerste beesvleis gaarmaak! Dis fantasties dat jy die ou resepte en gebruike laat voortleef!! Seën op jou pad en ons bly bid vir n papnat Boesmanland!
Liewe Marli
ons het so 2 naweke terug julle familie kuiers oor en weer omtrent dop gehou ons was ook op Strandfontein en nou lees ek die pragtige terugblik en nagedatenis aan jou ma. Ons is ook net sussies wat oor is maar net 2 en sonder ma of pa dws net ons 2. Ek kan onthou van jou ma se skielike ongeluk en ook dat 1 of 2 van julle al op Boer soek ‘n vrou was maar soos jou oudste sussie gesê het “julle het reggekom”
Ek volg graag jou blad. xxx Louise
Louise, dankie vir die saamlees! Ai wat ‘n jolige lekkerte was daardie familie naweek op Strandfontein nie =) Kosbaar om sussies te hê, ek verruil myne vir niks in hierdie wêreld nie! Geseënde naweek vir julle. Groete uit die Boesmanland (Met die mooiste wolkies wat vandag opsteek)
Hi Marli Ja hierdie 7 November 2008 is n datum wat nie ek of Willie ooit kan vergeet nie, Ons was reeds omtrent 9 maande in Nieu Seeland Ons het die Saterdagoggend die oproep gekry vanaf Leon Horn. So ver van ons Vaderland met sulke skokkende nuus was hartverskeurend. Nouja met hierdie viering elke jaar en die vertelling hoor ek darem die karakter van my skoonsuster, wie ek nie regtig geken het nie, maar wie ek eintlik in stilte bewonder het omdat sy in die Boesmanland kom woon het, en “a go” gemaak het van hulle lewe as gesin, baie nuwe dinge aangepak. Ons mis jou dierbare skoonsus Ons eer jou nagedagtenis. Ons bewonder jou 3 dogters en dit wat jy vir hulle geleer het. Ons is lief vir ons broer Andre en geniet hom as mens. R.I.P. skoonsus xxx
Ek het baie lekker gelees en dit het my so herinner aan my ma wat in Desember verlede jaar gesterf het. Ek is al lank getroud en het ‘n familie, maar my ma het tot aan die einde altyd my gunsteling kos gemaak wanneer ookal ons haar in Namibia besoek het. Die afval was sommer altyd die eerste maaltyd op die spyskaart. (My familie eet nie afval nie). Die vye konfyt, gevlegde koeksusters en gedroogde beskuit was altyd ingepak wanneer ons die lang pad terug Kaap toe aangepak het. Ek vier saam met jou.
Hoe kosbaar is herinneringe nie! Ek geniet dit so om alle ma’s se “onthou” te vier – hulle is die ankers in ons lewens wat nooit genoeg geprys word vir dit wat hulle doen nie. Dankie vir die deel en saam onthou xxx