Ek het ‘n oor-die-berg buurtannie wat my gereeld bederf met lekkertes uit haar tuin en haar kombuis. Sy is ‘n vasvatter Boesmanland tannie wat dadelik haar huis vir my oopgegooi het toe ek as onsekere boervroutjie voet aan wal gesit het op Namies in 2019. Sy het 3 pragtige dogters van haar eie, wat almal elders loop nesskrop het. Sy het vir my gesê “Hier in die Boesmanland sal jy vreeslik alleenkry as jy nie jou huis – en hart – vir ander oopgooi nie”
Sy stuur vir my stap vir stap foto’s van hoe om ‘n rolrib te maak. 15 minute lange stemboodskappe oor hoe om die perfekte vrugtekoeke te bak – sy bied tot aan dat ek haar panne kan leen! Sy leer my kosbare waarhede uit hierdie wêreld en vertel graag staaltjies van vervloeë dae. Hierdie week was ek so bevoorreg om aan die ontvangkant te wees van ‘n pluksel vars vye uit haar boord.
Wonderlike voordele van vye:
- ‘n Halwe koppie vye bevat dieselfde hoeveelheid kalsium as ‘n halwe koppie melk
- Dit bevat meer vesel as pruime
- Vye verlaag cholesterol & bloedsuikervlakke
- Dit verbeter jou kardiovaskulêre gesondheid en verhoog energie en stamina
- Vye kan bydra tot die voorkoming van kolon en borskanker
- Dit bevat ‘n aminosuur wat die liggaam help met die produksie van melatonin (‘n hormoon wat jou lekkerder laat slaap!)
- Vye kan help in die natuurlike behandeling van anemia (bloedarmoede), asma asook hipertensie
Ek het eenkeer na ‘n program van Nataniël gekyk waarin hy dit so mooi verwoord het: “Die slaai is so vars dit voel jy huppel deur die tuin van Eden terwyl jy dit geniet” Hierdie koek het dieselfde effek. Jy proe die Boesmanland son in die vars vye!
Vars-uit-die-boord Vyekoek
Wanneer jou buurvrou jou bederf met ‘n pluksel van die lekkerste vars vye en jou ingelegdes kas is vol, dan probeer jy hierdie vyekoek. Hy is die perfekte teetyd treffer as die dominees opdaag vir huisbesoek. Nie te soet, maklik om te maak, ‘n gunsteling vir jonk en oud!
bestanddele
- Koek
500ml koekmeel
10ml bakpoeier
60ml sagte botter
60ml bruinsuiker
60ml heuning
375ml vars vye, opgekap
1 eier
250ml vars koeimelk (Volroom!)
5ml vanielje geursel
2.5ml amandel geursel
5ml sout
- Versiering
225g roomkaas, versag
180ml botter, versag
1.5ml sout
2.5ml vanielje geursel
1.5ml amandel geursel
750ml versiersuiker
15-30ml melk (net indien nodig)
6-8 vars vye
Heuning vir afronding (nie noodsaaklik)
metode
- Koek
- Voorverhit jou oond tot 180°C en spuit ‘n koekpan met koswerende sproei.
- Meng meel, sout en bakpoeier in ‘n mengbak en hou eenkant.
- Room botter en bruinsuiker saam tot lig van kleur.
- Voeg die eier by botter en suiker en klits goed.
- Voeg meel en melk by en meng als goed deur tot ‘n deeg vorm.
- Voeg vanielje & amandel geursel, heuning en vye by en meng goed.
- Skep beslag in jou koekpanne en maak gelyk met ‘n deegskraper.
- Bak by 180°C vir 25 minute of tot toetspen skoon uitkom. Gooi die koek uit die pan en laat goed afkoel voordat jy dit versier.
- Versiering
- Klits roomkaas, botter en sout saam tot lig en romerig (ongeveer 5 minute).
- Voeg vanielje en amandel geursel by en roer goed.
- Voeg versiersuiker geleidelik by en meng tot glad.
- Voeg bietjie melk by indien versiersel te styf is. (Pasop vir te veel!)
- Smeer oor jou koek, versier met vars vye en rond af met klein bietjie heuning.
My wens vir jou is ‘n omgee buurvrou soos my oor-die-bult tannie! Iemand wat jou hart ken en deel in jou drome. Iemand wat omgee dieper as wat die oog kan sien.
Met liefde uit ‘n baie warm Boesmanland xxx