Welkom by my Langtafel

Ek het groot geword op ‘n plaas waar ons eettafel samesyn my heel beste herinneringe is. My ma was ‘n ongelooflike, passievolle gasvrou. Soos ons lees in Hebreërs 13:2 het sy ook telke male engele as gaste gehuisves. Toe ek net 14 was is my ma na haar verewig huis. Sy’t baie dinge vir ons nagelaat, maar die grootste hiervan was haar liefde vir kosmaak en onthaal. My pa is weer ‘n dromer, ‘n skrywer en ‘n ongelooflike storieverteller. Hy kan jou tot in die na-nag vermaak met hulle grootword stories uit die Boesmanland.

Ek is ‘n kombinasie van my gasvrye ma en dromer pa. Ek is lief vir kosstories vertel, ek’s lief vir vrae vra en diep in jou oë kyk terwyl ons harte deel om n bord kos. Ek’s lief vir die geskiedenis van my grootwordplek en ek is lief vir eenvoud.

My liefde vir kos het my verder geneem om my BSc graad in Verbruikerswetenskappe te voltooi in Potchefstroom 5 jaar terug. Vandag is ek terug in die Boesmanland en my hart smag steeds na bietjie dag terug se kos om ons kombuistafel. Want dis nie net kos nie, dis ‘n leefwyse van opregtheid, oorvloed en eenvoud. Met Langtafel deel ek al hierdie herinneringe met jou. Ek vertel my kosstorie en ek nooi jou uit om dieselfde te doen.

Met liefde uit ‘n heerlike koel Boesmanland xxx

Leave a Reply